Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Antisemitisme bedreig orde in Europa ál meer

Eergister is die bevryding van Auschwitz in 1945 oor die hele Europa herdenk.

Die gewese voorsitter van die Duitse sentrale raad van Jode, Charlotte Kobloch (86), het ’n interessante toespraak in die Europese Parlement in Brussel gelewer oor die herlewing van antisemitisme in Europa.

Leopold Scholtz

Uit haar toespraak is dit duidelik dat die “nuwe” antisemitisme in Europa ’n saak met teenstrydige fasette is. Jodehaat kom nie slegs by regse ekstremiste voor nie; ook by linkse ekstremiste, en nie alle ekstremiste (regs en links) is antisemities nie.

Sy het ’n felle aanklag gerig teen Jeremy Corbyn, leier van die Britse Arbeidersparty: “Die Arbeidersparty het hom onder die leiding van Jeremy Corbyn oor die jare tot een van die duidelikste probleemgevalle in Europa rakende antisemitisme ontwikkel.”

Sy het gewys op Corbyn se “eensydige steun” vir Palestynse ekstremiste in die Midde-Oosterse konflik. Hy vertraag steeds dissiplinêre optrede teen partylede wat antisemitiese uitsprake maak.

Sy het ook gekap na die regs-populistiese Duitse Alternative für Deutschland (AfD), ’n party waarvan die ekstremistiese vleuel trots en openlik met die Nazi-verlede flirteer.

Verlede week het sy die AfD in die Beierse deelstaat-parlement in München hieroor gekritiseer en die party “vyandig teenoor die grondwet” genoem.

In Duitsland word dit as byna gelykstaande met hoogverraad gesien. Daarop het die aanwesige AfD-lede die vergadersaal demonstratief verlaat.

In Brussel het sy daarop gewys dat groepe soos die AfD en linkses wat aandring op ’n boikot teen Israel in beginsel min met mekaar gemeen het – “net antisemitisme verenig hulle almal”. Sy het bygevoeg dat Europa toenemende geheueverlies rakende die geskiedenis ondervind.

Dit, saam met die groeiende antisemitisme, is ’n ernstige gevaar vir die Europese Unie. Deur sulke aanslae op die liberale Europese waardes “word die na-oorlogse orde in Europa, wat op vryheid gebaseer is, meer as ooit tevore in gevaar gestel”.

’n Onlangse peiling wys dat 90% van die Jode in die EU antisemitisme ervaar.

In ’n onderhoud met die Augsburger Allgemeine Zeitung het sy gesê dat sy talle doodsdreigemente ná haar toespraak in München gekry het. Byna geen week gaan verby sonder dat Jode in Duitsland nie bedreig of fisiek aangeval word nie.

In dieselfde koerant waarsku Beiere se spe­siale ondersoeker oor antisemitisme, Ludwig Spaenle, dat die verskynsel toenemend ook by Europese Moslems voorkom.

’n Onlangse peiling wys dat 90% van die Jode in die EU antisemitisme ervaar.

Luidens ’n onlangse verslag van die EU se agentskap vir fundamentele regte groei antisemitisme ook elders in Europa, van Pole tot Nederland en die Skandinawiese lande.

Meer oor:  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.