Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Antjie Krog: FW het van ons wit kansvatters gemaak

Vir FW de Klerk het politieke hervormings en versoening nooit ’n morele oogmerk gehad nie, dit het altyd oor politieke strategie gegaan, sê die bekende skrywer Antjie Krog. Hy het die mislukte, onboetvaardige gesig van wit mense geword.

Oudpres. FW de Klerk en Leon Wessels, destyds voorsitter van die Grondwetskrywende Vergadering, by ’n sitting van die Waarheids- en Versoeningskommissie in 1996. Foto: Gallo Images

Toe FW de Klerk en sy vyandige afvaardiging die plek verlaat waar ’n sitting van die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) plaasgevind het, het iets onherroeplik deur ons kollektiewe vingers geglip.

Mense in die vertrek en gange was woedend, die kommissarisse het terneergedruk rondgestaan.

Toe sê iemand: “Dit is De Klerk, hy formuleer altyd met regsgevolge in gedagte . . . Hy vra op só ’n manier vergifnis dat dit hom nie wetlik impliseer nie. Dus hoef hy nie vir amnestie te vra nie!”

Toe ek agterna ’n onderhoud met aartsbiskop Desmond Tutu voer, hang sy vel dof om sy gesig.

Waarom lyk hy so verslaan? Wat was dit wat hy so desperaat was om by De Klerk te kry? Soos altyd fokus die aartsbiskop op die etiese: die erkenning dat ons verbondenheid aan mekaar ons menslik maak.

Die meeste wit mense glo nie dat apartheid of kolonialisme verskriklik korrup en erg vernietigend was nie.

“Ek is diep verbind tot versoening en ek gee geweldig baie om vir al die mense in die land . . . Jy sien, ’n mens kan nie alleen hemel toe gaan nie. As ek daar aankom, sal God my vra: ‘Waar is De Klerk? Sy pad het joune gekruis.’ En hy ook, God sal vir hom vra: ‘Waar is Tutu?’ So ek huil vir hom, ek huil vir De Klerk – omdat hy die geleentheid om menslik te word verwerp het.”

Voor die WVK het De Klerk nie enige morele oogmerk gehad nie, daar was glad nie ’n riglyn wat hom na ’n visioenêre etiese pad gelei het nie. Daar was ook nooit nie.

Sy vrylating van Nelson Mandela en die wettiging van die ANC ’n paar jaar vroeër was nie gegrond op enige duidelike erkenning dat apartheid heeltemal verkeerd was nie, dit was uit en uit ’n slim politieke strategie.

Hoewel dit seker al is wat ’n mens van ’n politikus kan verwag, het die gevolge van sy optrede tot vandag toe nog ’n geweldige groot invloed op ons. Die meeste wit mense glo nie dat apartheid of kolonialisme verskriklik korrup en erg vernietigend was nie; of verkeerd en onvergeeflik.

De Klerk en die onderhandelings

Oudpres. FW de Klerk by ’n mediakonferensie enkele dae voor die 30ste herdenking van sy toespraak van 2 Februarie 1990. Foto: Gallo Images

Deur dramatiese besluite te neem sonder om dit verbaal – selfs vir strategiese redes – in ’n etiese visie te anker, beteken dat jy die gereedskap agterlaat wat ’n leier in staat sal stel om sy of haar volgelinge saam te neem op die pad na verandering.

De Klerk het oor die jare heelwat woede van wit mense ervaar omdat hulle glo dat hy veral die Afrikaanse taal en minderheidsregte uitverkoop het.

Die historikus Hermann Giliomee redeneer dat De Klerk sy kiesers in die referendum van 1992 magsdeling belowe het en dit toe heeltemal prysgegee het. Ander rolspelers beskryf De Klerk se onderhandelingstrategie as “jammerlik”.

Geen morele imperatief is in sy onderhandelinge met die ANC te sien nie.

Giliomee vertel: “Ons het geen plan gehad nie, geen strategie nie, geen punt waar ons sou weier om verder toe te gee nie. Ons het geen duidelikheid gehad oor die doel wat ons wou bereik nie.”

En hy vertel van die ontelbare kere wat Roelf Meyer nuus na die kabinet toe gebring het wat De Klerk op die tafel laat hamer het en “nooit!” laat sê het net om ’n bietjie later gedwee toe te gee.

Geen morele imperatief is in sy onderhandelinge met die ANC te sien nie – dit was bloot ’n strategie, soos Joe Slovo geraai het, om groot pensioene te beskerm. En so is ons agtergelaat as ’n gemeenskap van wit kansvatters . . .

Dit is die een kant.

Die hand van vergifnis

Oudpres. FW de Klerk tydens die onlangse staatsrede toe die EFF daarop aangedring het dat hy die parlementsgebou verlaat. Foto: Gallo Images

Die ander kant, soos ek al voorheen gesê het, is dat elke Suid-Afrikaner ’n beeld het van ’n magtige swart man wat namens ’n kollektief uitreik en wittes, as ’n kollektief, vergewe.

Daar is Nelson Mandela wat die Springboktrui dra of De Klerk se hand saam met dié van Thabo Mbeki in die lug hou as sy twee adjunkpresidente.

Gevolglik het elke wit en elke swart persoon ’n herinnering van ’n magtige swart man wat die hand na wittes uitreik, maar niemand van ons het ’n beeld van ’n magtige wit man wat ’n definitiewe gebaar maak om vergifnis te vra nie.

Hoewel die voormalige Wes-Duitse kanselier Willy Brandt die vroeë Nazi-regime aktief teengestaan en tydens die regering van Hitler in ballingskap gegaan het, het hy ’n krans gaan lê by die monument vir die Helde van die Ghetto in Warschau. Die inskripsie lees: “Vir diegene wat geval het in die ongekende en dapper stryd vir die waardigheid en vryheid van Joodse mense, vir ’n vrye Pole en vir die bevryding van die mensdom.”

Omring deur politici, joernaliste en fotograwe het Brandt die monument genader op ’n grys, bewolkte dag.

Hy het die lint van die begrafniskrans reguit getrek, teruggetree en toe, tot almal se verbasing, spontaan en skielik op sy knieë geval. Dit het die bekende “Kniefall van Warschau” geword – ’n eenvoudige gebaar wat die eerste sein gegee het van Duitse politieke berou, smart, boetvaardigheid en skuld.

Antjie Krog

Maar hier in Suid-Afrika het ons geen soortgelyke beeld nie. En ja, jaar ná jaar, stuurs en vermoeid, moet De Klerk homself verdedig – netjies gestipuleer in datums, klousules en wetlikhede. En jaar ná jaar, dikwels rondom Versoeningsdag, stel sy woordvoerder “die regte feite”.

Hoewel hy verder gegaan het en meer gedoen het as enige van sy voorgangers, het De Klerk ná dekades van die nuwe bedeling die geïrriteerde, beroulose gesig van wit mense geword – en soms lyk dit asof hy dit doelbewus wil wees.

Die WVK-verslag was klaar gedruk toe die kommissie ’n hofbevel kry om sy finale bevinding oor De Klerk tydelik te verwyder. ’n WVK-beampte is haastig na die drukkers waar die eerste kopieë in ’n afleweringsvoertuig gelaai is om na Pretoria gebring te word.

’n Halfuur later het mense steeds oral in die drukkers se gebou gesit om die helfte van bladsy 225 en die eerste sin op bladsy 226 met swart ink te uit te klad – stukkies papier is versigtig aan albei kante van die gesensureerde bladsye geplaas om te verhoed dat die ink smeer.

Grootgemaak op die brakkerige water van die Dopperkerk, opgevoed tussen die wit senings van Potchefstroom en nadat hy gedwee boontoe gedryf het tussen die boelies en die skurke van die Nasionale Party, gaan De Klerk voort om eietydse Suid-Afrikaanse ruimtes te betree soos ’n man sonder enige begrip en ’n kommunale radar.

En soos altyd, gaan dit oor strategie en nooit oor wat die regte morele ding is om te doen nie.

Elkeen van sy dade is wetlik verskans – dié keer, miskien, om die Internasionale Strafhof in Den Haag te vermy wat ondersoek instel na volksmoord, oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en aggressie.

* Antjie Krog is ’n internasionaal gerekende digter, skrywer, joernalis en akademikus. Sy het oor haar dekking van die WVK vir die SAUK geskryf in die bekroonde boek Country of My Skull.

* Dié meningstuk het oorspronklik in Engels verskyn op News24.

Meer oor:  Desmond Tutu  |  Antjie Krog  |  Fw De Klerk  |  Nelson Mandela  |  Vergifnis  |  Versoening  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.