Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Apartheid was verkeerd – nie net oor gevolge

In die lang stryd tussen die hoofsaaklik wit NG Kerk en die hoofsaaklik swart en bruin VGK om een kerk te word, was daar in die verlede ’n debat oor wat nou regtig verkeerd was met apartheid.

Een beskouing was dat dit verkeerd was omdat die gevolge daarvan verkeerd was. Die bedoeling was goed, maar in die praktyk het apartheid onmenslikheid, verdrukking, onreg en ongelykheid meegebring. Mense is dan gewoonlik opreg spyt dat ’n goedbedoelde stelsel so ontspoor het.

Die ander siening was dat apartheid wesenlik verkeerd was, en nie weens die gevolge nie. Apartheid se rassistiese onderbou was die vermeende meerderwaardigheid van sommige kleurgroepe en die minderwaardigheid van ander. Op grond van dié voorveronderstelling en vooroordeel is samelewingstrukture opgerig wat dié minder- en meerderwaardigheid moes weerspieël.

En hierdie gewelddadige strukture is met verdere geweld in stand gehou.

Hierdie meerderwaardigheid en bevoorregting is in die wette en strukture van sowel makro- as mikro-apartheid vasgemessel. En hierdie gewelddadige strukture is met verdere geweld in stand gehou.

Daar is geredeneer dat meer as opregte spyt ’n gepaste respons op misdadige en verontmenslikende apartheid is. Opregte berou is eerder nodig. Dit impliseer droefheid en pyn, sowel oor die konseptualisering en ontwerp daarvan as oor die gevolge daarvan. Berou impliseer bekering en ’n verbintenis tot regstelling, reparasie en restitusie.

Soos met apartheid en rassisme is dit ook ten opsigte van klassisme, seksisme en homofobie moeilik om te erken dat bewuste en meestal onderbewuste vooroordele die grondslag van hierdie diskriminasie is.

Hierdie vooroordele word oor jare heen vasgelê in sosiale strukture.

Hierdie vooroordele word oor jare heen vasgelê in sosiale strukture, en soms kry die vooroordele en strukture ook sanksionering van godsdienstige en sekulêre lewensbeskouinge.

Dié vooroordele is moeilik om te erken omdat ’n mens nie jou voorouers, of jouself, as inherent diskriminerend wil voorstel nie.

Dit troos immers om te sê apartheidsvoorstanders het dit goed bedoel en het opreg gesoek na ’n oplossing vir hoe mense van verskillende en kwansuis onversoenbare kleur-, kultuur-, taal- en sosio-ekonomiese groeperinge in dieselfde land kan saamleef.

Om enige vorm van diskriminasie te oorwin, moet ons die slegte gevolge daarvan raaksien.

Meer nog, ons moet berouvol bewus word van die vooroordele wat in ons almal skuil en wat tot uiting kom in diskriminerende beleid en praktyk.

En ons moet onthou waar daar berou is, is daar restitusie. Ons moet ook met die voorveronderstelling werk dat mense versoenbaar is, te midde van verskeidenheid en desondanks ’n verlede van geskeidenheid en diskriminasie.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.