Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Apartheidsdebat: ‘Luister om te verstaan’

‘Die grootste probleem met kommunikasie is dat ons nie luister om te verstaan nie. Ons luister om te antwoord.”

Barnard Beukman

Dié stelling deur Roy T. Bennett, skrywer en positiwiteitsmotiveerder, was een van die oorheersende kenmerke van die laaste paar dae se terugkeer na die apartheidsdebat.

Om eers net weer Beeld se standpunt in ons hoofartikel Dinsdag saam te vat: “Vir eens sal welmenende en opregte swart en bruin Suid-Afrikaners se woord aanvaar moet word dat hulle apartheid erg onderdrukkend en vernederend ervaar het en as ’n misdaad teen hul basiese menswaardigheid.”

Die punt word ook gemaak dat swart en bruin mense se toenemende kritiek, dat die regering op baie plekke swakker dienste lewer as voor 1994, nie verwar moet word met ’n terughunkering na wat hulle onder apartheid beleef het nie.

Maar terug na die afgelope week. Nog kenmerke van die nasionale diskoers was:

  • Diegene wat dit verwerp dat apartheid ’n misdaad was, se hoofargument is: “Ja, maar kyk wat vang die ANC nou aan.” Elke­ tydperk moet op sy eie meriete beskou word. Wat nou gebeur, het niks daarmee te doen of apartheid ’n misdaad was of nie.
  • Van politici tot gewone mense se kommentaar is te veel deurspek met persoonlike aanvalle. Om eers ’n ander persoon te beledig, wys op ’n vrot saak;
  • Die o so amper heilige korrektes kon hul geluk nie glo nie. Hulle het met die laaste paar jaar se stand van landspolitiek al hoe stiller geword. Al het van hulle voor 1994 erg opgeoffer teen apartheid – as jy nie ’n kaartdraende kameraad is nie, was daar ná 1994 geen erkenning nie. Hul enigste identifisering was om die boses uit te wys en hulself voortdurend te distan­sieer – “dit was nie ons nie, julle kan mos sien dit was hulle”. Wel, hulle is terug in besigheid – ’n geskenk van die einste oudpres. FW de Klerk. Hulle was juis nog altyd so bitter teenoor hom oor die erkenning wat hy gekry het. En dit wou juis lyk of hy en sy stigting ’n heel skaflike herdenking van 2 Februarie 1990 staan gemaak het, totdat . . .;
  • Al het die uitlating vir sommige weer wonde oopgemaak, het die opportunistiese uitbuiting vinnig gevolg met die EFF aan die voorpunt. Ook deur diegene wat dit inderdaad as weerligafleier wil gebruik vir die klaaglike mislukking van “ ’n beter lewe­ vir almal”; en
  • Pogings om De Klerk nou as die hoofmisdadiger van apartheid voor te stel en sy historiese bydrae te wil misken, is misplaas. Koos Kombuis lewer elders ’n nugtere bydrae daaroor.

Die hele sage het veral wit Afrikaanssprekendes weer in die visier geplaas. Vir seker gaan daar pogings wees om die momentum daarvan lewendig te hou en die politieke landskap te skuif. Het hier werklik ’n sweer oopgebars of is dit ’n slaanstok tot in ewigheid, vra iemand.

Enige goeie punte uit die hele debakel? Dalk is dit dan tog ’n geleentheid dat ons weer oor die dinge in gesprek is. Maar dan moet daar van alle kante gepoog word om te luister ten einde te verstaan en nie net om terug te antwoord nie.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.