Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
April, wat ruik na heuninggras en vrugteskil
Madré Marais
Madré Marais

Ons is midde-in die digter se maand. Nie die mooiste, mooiste maand, soos die lenteklokkie by die meeste mense sal lui nie. Leipoldt word, met baie respek, gevra om vir eers opsy te staan.

Nee, dis die perlemoermaand April, skryf Ina Rousseau. In teenstelling met die baldadigheid en oordaad van daardie ander besinging van die seisoen, is dit ’n tyd wat “stil-stil” aanbreek. Teenoor jasmyn en katjiepiering is daar die “subtiele geur van heuninggras en vrugteskil”.

Dis boonop die middelste maand van die seisoen wat digters so graag inspan om alles, van die liefde tot die dood, teen die lewenswaarheid van verganklikheid te laat afspeel.

Wat ’n gewaardeerde stuk skryfwerk betref, kan ’n mens voel dat jy wil vra, soos in verwondering vir ’n geliefde: “Jy, hoe het ek tog aan jou gekom?” ’n Retoriese vraag, gelaai met sentiment, maar ook om te oorweeg as ’n realistiese vraag.

Die kennismaking met ’n gunstelingskrywer of stuk skryfwerk kan op dieselfde manier afspeel as die ontmoeting met iemand wat jou hart wen: Julle word deur ’n gemeenskaplike vriend aan mekaar voorgestel; jy leer ken hom op skool; julle beland deur fout of misverstand in dieselfde skemer, selde bewandelde deurloop tussen twee rakke van ’n universiteitsbiblioteek; die sosiale media oorbrug ’n paar grense wat normaalweg nie oorgesteek sou word nie.

Die kennismaking met ’n gunstelingskrywer of stuk skryfwerk kan op dieselfde manier afspeel as die ontmoeting met iemand wat jou hart wen.

In uitsonderlike gevalle is dit nie so maklik om te sê presies hoe julle mekaar ontmoet het nie. Soos dit met groot liefdes gaan, is dit asof julle nog altyd in mekaar se geselskap was. Dan nie?

Vir besonderse herontmoetings is daar ook altyd ’n kans. J.M. Coetzee skryf as huldiging aan N.P. van Wyk Louw, ingesluit in Vuur in sy vingers, wat verlede jaar in die 50ste herdenkingsjaar van sy afsterwe uitgegee is, hoe hy Kersfees 1965 saam met ander studente in die VSA deur die Rooi Kruis die geleentheid gebied is om in ’n stemopname groete aan sy familie te stuur. Coetzee het op Afrikaanse gedigte in Duitse vertalings afgekom en as boodskap eenvoudig “Frühherbst” voorgelees.

“Vroegherfs” was waarskynlik vir die meeste mense aanvanklik ’n voorgeskrewe gedig op skool, ’n netjiese voorbeeld van vormvaste digkuns om onder meer rymskema en beelding – ook natuurlik daardie allerbelangrike wending en verdieping – te illustreer. Dis ’n kennismaking wat dalk, of dalk nie, groot indruk kon laat.

Dit kan in elk geval nie net aan verknogtheid aan volksbesit of geyktheid toegeskryf word dat dié gedig in die kollektiewe geheue bly weerklink en so ywerig aangehaal word nie.

As leser is die grootste geskenk wat gegee of ontvang kan word, ’n bekendstelling. Die deel, uitruil, leen en aangee van leesgoed is ’n onmeetbare heerlikheid. Die enigste ding wat die opwinding van ’n eie ontdekking oortref, is die vervoering van daardie iemand met wie jy dit deel. Ek onthou nog hoe ek Rousseau ontmoet het, en ek is dankbaar.

  • Marais is ’n skrywer en taalversorger van Bloemfontein.
Meer oor:  Madré Marais  |  Heuninggras  |  Lemoenskil  |  Ontmoeting  |  April  |  Skrywer  |  Geliefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.