Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Armoede se ‘arm’ het lang geskiedenis
Gerhard van Huyssteen

Vra Isa Marx via e-pos: “Waarom skryf ons ‘lankmoedig’ en ‘blymoedig’, maar ‘armoedig’ en nie ‘*armmoedig’ nie? Dit lyk eenvoudig, maar het my goed aan die dink gesit.”

Die geval “armoedig” en sy basisvorm, “armoede”, is (vir bleeksielakademici soos ekke) gewoon vreugdeskos om dae lank serebrale rittels van te kry . . . #siestog

“Armoede” is ’n baie ou woord in die Germaanse tale en kom steeds voor in Nederlands (armoede; ook armoe, maar dan met ’n ander betekenis), Duits (Armut), Sweeds, Noors en Deens (al drie armod), Jiddisj oftewel oremkayt) en Fries (earmoed).

En wat van ons ander Germaanse taal, Engels? Die boeiende is dat “armoede” om die een of ander rede nie in Engels oorleef het nie. In Oud­engels had ons nog iermþu en iermþ (of earmðu volgens ’n ander woordeboek), en in Middelengels armthe en earmthe, maar dié moes toe plek maak vir die gesofistikeerder poverty, wat ’n afleiding is van die Oudfranse poure en nog verder terug die Latynse pauper (wat albei “arm” beteken). In die res van die Germaanse wêreld het ons gewoon oudmodies arm gebly, niks fênsie nie.

Nou moet ons ’n stukkie morfologie pleeg. In Oudgermaans is die agtervoegsel -oed (toentertyd geskryf as -oþu en -oðu) gebruik om abstrakte naamwoorde te vorm uit werkwoorde wat op -on geëindig het. In dié tyd was daar ’n werkwoord armon wat “arm wees” beteken het. Gooi nou die -on in armon weg en plak -oed daaraan vas, en met ’n hink-stap-sprong is jy by arm+oed, oftewel armoede!

As dit nou nie jou hart verwarm nie, dan moet jy maar aanvaar jy is afgestomp, sinies en kil.

Presies dieselfde proses sien ons in die woord “kleinood”, waar die -ood-deel maar net ’n variant is van -oed; dus klein+ood = kleinood. En nog ’n variant van -oed is -aad, soos in sier+aad = sieraad. As dit nou nie jou hart verwarm nie, dan moet jy maar aanvaar jy is afgestomp, sinies en kil.

Die potensiële spellingprobleem van “armoedig” as “*armmoedig” het te doen met wat in die taalkunde bekend staan as verkeerde hakieanalise. Na analogie van [lank][moed][-ig] en [bly][moed][-ig] wil ’n mens nou – doodnatuurlik – die woord gaan analiseer as *[arm][moed][-ig]; “lank”, “bly” en “arm” is immers al drie byvoeglike naamwoorde. Maar ons weet nou die hakies in laasgenoemde is verkeerd: Dit moet [arm][-oed][-ig] wees.

Ons sien dieselfde potensieel verkeerde hakieanalise ook by die woorde “deemoedig” en “ootmoedig”. Eersgenoemde is nie *[dee][moed][-ig] nie, maar wel [deemoed][-ig]; laasgenoemde nie *[oot][moed][-ig] nie, maar [ootmoed][-ig]. Ons ken immers die woorde “deemoed” en “ootmoed”, maar nie “*dee” en “*oot” nie.

Verbandhoudend met verkeerde hakieanalises is die sogenaamde hakieparadoks. Wannie Carstens se bekendste (selfuitgedinkte) voorbeeld van ’n samestellende samestelling is die woord “verstopterioolingenieur”. Met die korrekte hakieanalise kry ons [verstopte riool][ingenieur]: ’n ingenieur wat hom/haar besig hou met verstopte riole. Maar met ’n verkeerde hakieanalise kry ons [verstopte][rioolingenieur]: ’n rioolingenieur wat dringend ’n purgeermiddel benodig.

En dan is daar ook nog hakieheranalise (rebracketing). “Hamburger” se oorspronklike analise is [Hamburg][er] (iemand – of ’n broodjie – wat van die stad Hamburg kom). Maar op basis van hakieheranalise loop staan maak ons (eintlik die Engelse) toe [ham][burger] en vervolgens kan jy dan [ham] lekker vervang met [hoender], [vis] en les bes [tofoe] (die hemele behoede ons!).

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Armoede  |  Arm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.