Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dana Snyman: As alles net te veel raak vir jou buite OK Foods

En dan raak alles vir jou te veel. Jy begin bang word om soggens dorp toe te gaan om die koerant en ander nodige goedjies te gaan koop, want jy weet wanneer jy by die OK Foods stilhou, gaan John Mgaga, die werklose nutsman, daar wees.

Dit is dieselfde John Mgaga wat al sy hamer en saag en van sy ander gereedskap verkoop het om aan die lewe te bly. Dit voel of hy elke oggend net vir jou wag.

By die Spar is jy ook te bang om te kom, want die ou sonder bene in die rolstoel is altyd daar.

Jy het al daar uitgeklim en probeer maak of jy hom nie sien nie, en terwyl jy na die winkel toe gestap het, aanhoudend in jou gedagtes gesê: “Vergewe my, Here. Vergewe my, Here. Ek gaan nie hierdie keer nie.”

Maar wanneer jy uit die Spar kom, gee jy maar weer iets vir hom waar hy in sy rolstoel in die parkeerterrein wag.

Jy weet die Bybel sê jou regterhand moet nie weet wat jou linkerhand doen wanneer dit by liefdadigheid kom nie, maar soms is jy lus en sê hardop vir almal om te hoor jy weet nie meer vir wie om te gee nie.

Die man in die rolstoel is nie al een wat by Spar rondhang nie. Daar is ook die maer seun wat altyd wil hê jy moet vir hom ’n boks Weet-Bix en botteltjie melk koop. En dan is daar die man met die verwronge gesig (sy gesig laat jou aan ’n Francis Bacon-portretstudie dink) wat ’n paar vuil, gehekelde handskoene dra, skynbaar onder die indruk dat dit hom soos chirurgiese handskoene teen die virus sal beskerm.

Jy weet die Bybel sê jou regterhand moet nie weet wat jou linkerhand doen wanneer dit by liefdadigheid kom nie, maar soms is jy lus en sê hardop vir almal om te hoor jy weet nie meer vir wie om te gee nie. En eintlik gee jy so min.

In die laaste ruk, terwyl die president hulppakkette van miljarde rand aankondig, is dit asof al meer mense hul honger hande na jou toe uithou en vra: Iets, asseblief.

Een ou het Woensdagmiddag met ’n dooie duif, die vere klaar afgepluk, in die een hand vir jou vir ’n paar randjies gevra. Hy wou later die duif gaan braai en eet. En dan is daar nog die klomp wat Please Call Me’s stuur: Help.

Soms wens jy jy het nooit van Jesus geweet nie. Die Jesus wat gesê het leef mededeelsaam, gee, hê lief.

Jy begin vir jouself verskonings uitdink hoekom jy moeg raak om te gee. Die staat moet help. Die Kerk. Gift of the Givers. Johann Rupert. Jy is nou moeg.

Ander se armoede laat jou dinge dink en sê en doen wat jy nie wil nie. Moet die regering nie maak soos hulle in China maak en bepaal elke gesin mag net twee kinders hê nie. Steriliseer mense, daar is te veel kinders.

Soms wens jy jy het nooit van Jesus geweet nie. Die Jesus wat gesê het leef mededeelsaam, gee, hê lief.

En dan raak alles vir jou te veel. Jy koop vir John Mgaga twee sakke vol kos en seep en goed, en wanneer jy dit vir hom buite OK Foods gee, vra hy vir nóg R80 om hoesgoed te gaan koop.

Dan hoor jy jouself hard vir hom sê: “Wat wil jy nog van my hê?! F****f net!”

Jy klim in jou bakkie, en hy kom staan by die venster, met sy handpalms teenmekaar. Jy lig darem jou hand en waai vir hom voor jy wegry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.