Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As almal maar kon wees soos boekverkopers
Emile Joubert
Emile Joubert

Ek wil graag na die plek gaan waar mense wat in boekwinkels werk, gekloon word. Dit kan tog net van die wêreld ’n beter plek maak. Nes wat boeke doen.

Die halfeeu waarin ek aan boekwinkels blootgestel is, plus 25 jaar in ’n bedryf waarin dienslewering ’n belangrike rol speel, laat my toe om met onaanvegbare sekerheid te stel dat die personeel van boekwinkels nie hul gelyke het nie.

Miskien is hierdie personeel se geduld en sagte vriendelikheid die gevolg van al die ure wat hulle in die boekwinkel deurbring. Hul bedwelmende kalmte en rustigheid veroorsaak deur die onmisbare reuk van golwe papierwalms en verniste voorblaaie.

Anders as die meeste ander winkels, is daar geen haas in ’n boekwinkel nie.

Daar is niks wat my belangstelling en kooplus meer demp as waar jy ’n klerewinkel of apteek binnestap en skaars tyd het om seker te maak jou beursie is in jou sak voordat ’n oorywerige verkoopspersoon die onvermydelike en geforseerde “Hoe kan ek help?” uitblaker nie.

Vra jy vir iets wat nie op die rakke is nie, lyk dit of die boekverkoper meer besorg is oor die opspoor van daardie spesifieke boek as die behoefte wat jy self het om dit in die hande te kry.

“Help” se maai – dit is niks anders as om jou so vinnig as moontlik in ’n sake-transaksie in te boelie nie. Nie in ’n boekwinkel nie. Hier is jy vry om te wandel, by ’n rak te stop.

Soos by my plaaslike boek-oase, The Book Lounge in die Kaapse middestad, waar gemakstoele jou lok om aan ’n boek of drie te vat en deur te blaai.

Hier, terwyl Chet Baker of John Coltrane se melodieuse koper-jazz-klanke in die agtergrond sweef, word die ervaring van die plek van besigheid net so belangrik beskou as die winsmotief.

Die interaksie met die personeel wat in hierdie winkels werk, van die klein onafhanklike boekplekke tot groter en kommersieel gesentreerde kettings, is bedees en bedagsaam – dit grens aan intimiteit.

Spoor die verkoper jou boek op is die opwinding aan die anderkant van die toonbank net so groot soos wat joune behoort te wees.

Vra jy vir iets wat nie op die rakke is nie, lyk dit of die boekverkoper meer besorg is oor die opspoor van daardie spesifieke boek as die behoefte wat jy self het om dit in die hande te kry.

Sy of hy sal diep in die rekenaar se internasionale inventaris kyk, die onderlip met halwe kommer byt. As die boek nie beskikbaar is nie, word die nuus oorgedra met die soort sorg wat ’n veearts toon met die tyding dat jou bejaarde worshond uitgesit moet word.

Spoor die verkoper jou boek op, en ’n sluk van verligting word geslaak, is die opwinding aan die anderkant van die toonbank net so groot soos wat joune behoort te wees.

Dit is egter die rustige geaardheid in die DNS van boekverkopers wat die opvallendste is. Elke boek word met sorg opgetel, die voorblad met belangstelling bekyk.

Dit voel asof hierdie een bundel papier en ink skielik ’n diep band tussen twee onbekende mense geskep het.

Met einste voorwerp in die hand, betree jy die wêreld buite die winkel met ’n huppel in jou stap, vars herinner dat boeke en mense die fisieke eweknieë is van die liefde en die dood.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Lesers  |  Intimiteit  |  Boekwinkels  |  Boekverkopers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.