Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As ANC-geilkatte in room vasval
Gert Coetzee

Hoe sou Volksblad se opskrif lui die oggend nadat die land finaalvan die verleentheid Jacob Zuma as president ontslae is?

Dalk: Zuma uit!

Of: Van Nkandla na Dubai.

Hopelik: JZ kry sy dag in hof.

Ons slyp solank die pen daarvoor noudat dit nie meer ’n kwessie van “of” nie, maar van “wanneer” is.

Toegegee, die “Jacob wie?” kom met ’n tikkie nydige vermakerigheid. Met daardie tartende kekkellaggie, spottende parlementêre “Nkááándla” en die skade aan ons land het hy daarna gemaak.

Nou is die eens magtige Umsholozi wat deur lafaards in hoë poste beskerm is, ’n uitgestotene.

Met Cyril Ramaphosa wat parallelle ondersoekprosesse laat ontvou totdat Zuma daardeur uitgespu word.

Dit maak nie saak wanneer nie.

As nuwe keiser melk Cyril dubbele voordeel uit die twee ANC-sentrums van mag. Hy is baas van Luthuli-huis, maar op die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos tree hy as de facto staatshoof op. Gister draai die geldeenheid die eerste keer sedert 2015 onder R12 per dollar.

Dat dit nie Nkosazana Dlamini-Zuma in al haar stoïsynse praal in Switserland is nie, is stof tot dankbaarheid.

Magashule is nie te onderskat nie. Die tussentydse uitvoerende ANC-komitee vir die Vrystaat is vol van sy marionette.

Van melk gepraat. Die aandraai van die ratte van die ondersoeke na staatskaping word bevestig deur die batebeslagleggingseenheid se bevel vir batebevriesing teen die Vrede-suiwelplaas van die Vrystaatse regering waarvan 1% van die R220,2 miljoen aan die landbouprojek bestee is.

Die res het Gupta-langs gevloei.

Met onbeskeie trots herinner ek daaraan Volksblad was die eerste publikasie wat die band tussen die Gupta-familie – deur Linkways en Estina Pty Ltd/ Paras – en die suiwelplaas onthul het. In beriggewing in 2013 deur Vicus Bürger (nou van Netwerk24) begelei deur Charles Smith, nuusmaestro. Pieter-Louis Myburgh gee in The Republic of Gupta – A Story of State Capture krediet hiervoor.

Vir dié en ander beriggewing moes Volksblad oor ’n lang tyd aanhoor hy voer ’n politieke agenda teen Ace Magashule, toe Vrystaat-premier, en selfs ’n rassistiese sameswering teen swart sakelui. Die aantygings is onder meer in Magashule se kantoor aan Volksblad toegevoeg – in 2015 in die teenwoordigheid van kollegas.

Van die belofte toe dat hy die suiwelplaas se boeke vir ons sal oopstel, het niks gekom nie. En sy beweringe toe dat die melkplaas eintlik deur die VPR ingestel is om goedkoper melk aan arm verbruikers te lewer is as lagwekkend oneerlik bevestig.

Nou is Magashule as sekretaris-generaal in Luthuli-huis die tweede magtigste ANC-lid in die land.

Maar die ondersoeknet span nouer. Destyds het hy ongerymdheid met die suiwelplaas ontken. Vandeesweek sê hy die NVG-ondersoek moet sy verloop neem. En dat dit ’n “ope geheim” is dat sy seun vir die Guptas gewerk het.

Verlede jaar nog het hy daaroor uitgevaar dat sy seun Tshepiso net in die spervuur hieroor is omdat sy van Magashule is. Werklik? Het Magashule junior en die Guptas toevallig bymekaar uitgekom? Afsonderlik daarvan dat die suiwelswendel in die premierskantoor uitgebroei is?

Magashule is nie te onderskat nie. Die tussentydse uitvoerende ANC-komitee vir die Vrystaat, wat gister aangekondig is, is vol van sy marionette.

Die Ace-invloed hier bly geld.

Natuurlik is Ramaphosa nie onbewus daarvan dat die ANC se “SG” by die ondersoek na staatskaping betrek gaan word nie. Dit sal gepas wees as dit die Vrystaatse melkswendelary is wat tot die val van die Guptas – en andere – lei.

Soos geilkatte wat in hul eie room vasval (sien spotprent). Dan’s dit nie meer “ryk én lekkerrr” (in Jan Spies-taal) nie.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Menings  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.