Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As bloed in die kerke en skole begin vloei
Charles Smith

‘Always be humble and gentle. Be patient with each other. Making allowance with each other’s faults because of your love.”

Dit staan op die digitale bordjie agter die preekstoel van die First Baptist-kerk in Sutherland Springs, Texas. Dit was met die kerk se diens Sondag 29 Oktober.

Presies ’n week later met die erediens het dinge vir dié klein gemeente dramaties verander. Devin Patrick Kelly het met ’n outomatiese AR-15-aanvalsgeweer en volle aanvalsmondering in die kerk geloop en 26 mense doodgeskiet.

Om na ’n video van die volle kerkdiens op YouTube te kyk, is angswekkend. Jy sien die gemoedelikheid onder die kerkgangers as hulle “Happiness is the Lord” sing. As hulle “Showers of Blessings” sing, gee die gemeentelede mekaar drukkies. Voor staan ’n Harley Davidson-motorfiets wat uitgeloot is. ’n Simbool van ’n sorgelose Amerika.

Kinders speel in die kerkbanke. Ma’s en sussies sien om na hulle. Almal voel geborge. Veilig. Nou is meeste van hulle dood. Baie is vroue en kinders. In ’n kerk. Annabelle Pomeroy (14), die dogter van die pastoor, Frank Pomeroy, is ook doodgeskiet.

Agt lede van die Holecombe-gesin is dood, insluitende ’n baba, Noah. ’n Swanger Crystal is dood, só ook haar ongebore baba.

Ek was by die Amiese kerkie in Nickel Mines, Pennsilvanië, waar ’n melklorriebestuurder, Charles Carl Roberts, vyf jong Amiese meisies in 2006 trompop doodgeskiet het.

Wat gebeur met ’n land as sy eie mense die vuurwapen of ’n mes opneem en begin moor?

Ek het ’n foto geneem van ’n swerm voëls wat teen die grys lug oor die kerkie vlieg.

Daarna was dit een skietery ná die ander waaroor ek daar berig het. Die ergste was die Virginia Tech-geval, waar Seung-Hui Cho altesaam 32 studente en lektore met twee pistole afgemaai het. Aanvalle op skole, universiteite, konsertgangers, klubs, kerke.

Ek luister na die First Baptist-mense se sang. Dit is net sowel ons waarna ek kyk. Ons land. Ons mense. In kerke, skole, huise. Die geweld hier is ewe skreiend. Wat gebeur met ’n land as sy eie mense die vuurwapen of ’n mes opneem en begin moor?

Ek kry nie die foto van klein Noah uit my kop nie. Soos ek nooit die beeld van die vyf meisies met hul Amiese kappies wat bid vir die skieter voordat hulle kniel vir die doodskoot kan vergeet nie. Ook nie een van die dertig of meer plaasmoorde waaroor ek moes skryf nie.

Pieter Verster het geweet hoe ons dié tragedies kan keer, skryf sy vrou Adéle, in notas voor sy roudiens: Betoon menslikheid aan ander.

Hy is dood, maar soos Hannah Cornelius se ouers ook ná haar dood ’n hand uitreik na ander, só kan ons. Soos daar voor in die klein kerkie die boodskap flikker: Wees nederig, sag, geduldig. Gee om.

Meer oor:  Texas  |  Bloed  |  Massamoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.