Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As die dood maar anders kon klink, Jan

Lank voordat ek Jan Taljaard ontmoet het, het ek al van hom geweet deur sy berigte en artikels in die koerant. Soms het daar ook ’n rubriek van hom verskyn. Altyd effe mallerig.

Een rubriek, onthou ek, het gegaan oor Elvis Presley wat by ’n kafee in die Pretoriase Moot instap, doodkalm, en ’n pakkie sigarette koop.

Dana Snyman

Dit was die laat 1980’s, en enigiets was moontlik in die land. Of só het dit gevoel.

Ek was toe ’n veiligheidswag in die middestad van Pretoria – ’n trae een, wat verkies het om in die waghokkie te sit en koerant lees. Ek het al die name by die berigte in die koerant geken en oor daardie mense gewonder. Ook oor hierdie Jan Taljaard, wat knaend oor moord en doodslag geskryf het.

En toe word ek self ’n joernalis. Ek onthou hoe bang ek was die oggend in 1989 toe ek die eerste keer by Beeld se kantoor in Pretoria instap.

Toe staan hy daar, en lyk ’n bietjie soos ’n diaken wat op ’n kerkraadsvergadering was wat in ’n kroeggeveg geëindig het: ’n Kerkerige baadjie, met afgeremde sakke. Das losserig, hare deurmekaar.

Jan. Jan wat Sondag soos is. Weg.

Jan was my eerste en seker belangrikste leermeester in die joernalistiek.

Ek wil nie ’n pretensieuse opsomming gee van Jan se invloed op my nie. Jan het pretensie verpes. Selfs Bob Dylan was te pretensieus vir Jan. Hy het Dylan “Hymie Fishbein” genoem.

Ek het soveel dinge van Jan bewonder, veral sy vakmanskap. Hoe hy net voor saktyd van ’n groot storie af in die kantoor kom, sy draadrug-notaboek uit sy nerfaf aktetas haal, en binne ’n paar minute ’n hoofberig kon skryf.

Ek wens ’n mens kan die dood op dieselfde manier na iets anders laat klink as wat dit is, Jan. Dankie vir alles wat ek by jou kon leer. Dit was ’n voorreg om jou te kon ken.

Ook sy vindingrykheid. Toe die pedofiel Gert van Rooyen eers sy houvrou, Joey Haarhoff, en toe homself in Pretoria geskiet het, het ons daaroor vir Beeld verslag gedoen. Jan as senior, ek sy junior. Dag ná dag voorbladberigte totdat jy nie meer weet waaroor om te skryf nie.

Gaan vra vir Van Rooyen se suster om spesiaal vir Beeld ’n gedig vir haar oorlede broer te skryf, sê Jan later. Die volgende dag toe bring sy die gedig vir ons, geskryf agterop ’n pakkie Life-sigarette.

Daardie aand, nadat Jan ’n berig oor die gedig geskryf het, gaan lê hy op sy rug op die redaksiekantoor se vloer met die pakkie Life en probeer die gedig se woorde op die maat van een of ander ACDC-song sing.

Jan was nie ’n vaal mannetjie nie. Hy was anderkant woorde.

Een keer was ek en hy saam op ’n AWB-opleidingskamp waar die media toegelaat is. Een van die instrukteurs was besig om die AWB-vroue skietlesse te gee. Hy het ’n haelgeweer in die lug gehou en gesê: “Dames, ’n haelgeweer skop nie, hy’t net recoil.” Ek en Jan kon nie daaroor ophou lag nie.

Ek wens ’n mens kan die dood op dieselfde manier na iets anders laat klink as wat dit is, Jan. Dankie vir alles wat ek by jou kon leer. Dit was ’n voorreg om jou te kon ken.

Meer oor:  Jan Taljaard  |  Menings  |  Oorlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.