
Charles Smith
Die Wes-Kaap wat wil afstig, lok groot besprekings om braaivleisvure in die noorde van die land uit noudat die rugby flou en die krieket vrot is.
Gaan dit ’n groot Orania of ’n klein Engeland word? Want selfs die Afrikaners daar praat al Engels – en die Bolandse Afrikaners kolf vir Engeland. Die Blikore en die Vaalpense wil weet of hul vakansiehuise veilig gaan wees en of hulle ’n spesiale paspoort sal moet kry om die Hottentots-Holland-berge oor te steek.
Sal ons nog snoek kan kry?
En die wyn, ja. Die grootste kommer is of al die Kaapse wyne nou na die buiteland sal gaan en of ons noord van die Oranjerivier ook ’n kwota kan kry vir ’n bottel of twee Bolandse tee. Iets soos die KWV-kwota van ouds.
Sal ons nog snoek kan kry?
Soos Barries die anderdag sê, terwyl hy teug aan sy Allesverloren-shiraz wat hy om en om in sy glas laat draai: “Volgende is die wyntjie se naam All is Lost. Ons moet drink terwyl ons kan. As Cyril nie die wynkrane toedraai nie, wil die Kaap afstig. Ons verloor al die pad.”
Vlam het met sy een oog op die televisie, waar Dawid Malan op sy eie vir Engeland die Proteas verneder, iets onherhaalbaars oor die Kaap en joiners gesê. En droog bygevoeg: “Volgende het hulle ook hul eie geldeenheid soos Orania. Wat gaan hulle dit noem? Die Kreef?”
Hy het ’n diep sluk aan sy brannas & coke gevat en oor sy baard gevryf toe Malan nog ’n Protea-aflewering weer lig vir ’n ses. Ons weet hy is bekommerd oor sy huisie by Gourits waar die Chinese vistreilers reeds al die vis steel.
Hy rol die wyn oor sy tong en skommel dit van een wang na die ander.
En die Cheetahs wat deur Jurie Roux en die Kaapse kartel genaamd Saru geskroef is, het hom erg moerig. Nou moet ons Saterdag Jake White met sy gekoopte Bulle aandurf sonder sewe van die spelers waarmee ons die Bulle twee maande gelede geklop het. Danksy Saru.
“Daar is darem iets goeds in dié afstig-besigheid,” sê Barries, terwyl hy die shiraz meet met sy een oog toe. Hy rol die wyn oor sy tong en skommel dit van een wang na die ander. Dit dryf ons die mure uit, want hy het skielik begin rooiwyn drink om sy nuwe skoonma van Montagu te beïndruk. Sonder sukses, hoor ons.
Ons weet die Kapenaars kyk op ons neer met ons ou bakkies by die see.
“As die Kaap afstig, hou hulle die parlement vir hulself. Dan kan hulle Julius Malema ook hou. Hy laaik mos so baie van Brackenfell, hy kan ’n huisie daar aanskaf en sy kinders in die skool sit.”
Ons drink vir ’n rukkie in stilte. Ons weet die Kapenaars kyk op ons neer met ons ou bakkies by die see; hulle konkel teen ons op die sportveld en trek hul neuse op as ons met stronke braai.
Maar soos Vlam sê, behalwe vir sy mense is die Kaap nie ’n slegte plek nie. “Net vrek duur. ’n Snoek kos al soveel soos ’n lamsboud . . .”
Dis dop en frustrasie wat praat. Ons ekonomie is só sleg danksy Ace & kie dat ons eie skaapvleis te duur is. Hierdie Krismis is dit gebakte baber en marog. Dan droom ons oor die Kaap met sy see en wyn wat ’n ander land gaan word.