Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As die onderrok begin uithang . . .

Leopold Scholtz

Regeren is vooruitzien,” lui ’n Nederlandse spreekwoord. In die tyd waarin die wêreld weens die koronavirus op sy kop omgekeer is, is dit des te meer waar.

Selfs in die beste tye is dit ’n duiwels moeilike opgawe. Hoeveel van ons kan redelikerwys voorspel wat oor ’n week, ’n maand, ’n jaar gaan gebeur?

Die beste waarop ’n mens kan hoop, is om verwagtings uit te spreek, gegrond op allerlei aannames en uitgangspunte – wat op sigself in wisselende mate redelik of onredelik kan wees.

Tog, selfs al neem ’n mens al dié voorbehoude in ag, is daar sekere sake wat vermy moet word. Dit is om jou toekomsverwagting te min op feite en te veel op ideologie of korttermyn- politieke oorwegings te bou. Helaas sien ’n mens insake die koronavirus te veel politici wat te min na feite luister en in die proses kenners wil intimideer om nie hul insigte te openbaar nie.

Pres. Donald Trump van Amerika, wat hardop gis of die inname van bleikmiddel die virus kan doodmaak en wat kerkdienste vroegtydig wil oopstel, stel waarskynlik nie opreg in mense se gesondheid belang nie. Hy wil – en daarvoor kan ’n mens op sigself begrip hê – in November herkies word.

Ook ter plaatse tref ’n mens dieselfde mentaliteit aan. So het ’n politieke herrie losgebars om die kop van prof. Glenda Gray, president van die Mediese Navorsingsraad (MNR), na aanleiding van die kritiek wat sy op die regering se inperkingsmaatreëls uitgespreek het.

Gray, ’n internasionaal gerespekteerde kenner op die gebied van vigs-oordrag, het in ’n koerantonderhoud gemeen die regering se maatreëls moet volledig opgehef word.

Onder dié druk het die MNR sy slap rug getoon deur die regering nederig om verskoning te vra.

Nou kan ’n mens sekerlik aanvoer dat die professor foutief geoordeel het. Feitlik oor die wêreld heen is ’n sekere mate van vergrendeling ingevoer, en dit was heel waarskynlik die grootste enkele faktor om die verspreiding van die virus te vertraag totdat ’n entstof ontwikkel word.

Maar in Suid-Afrika het politici soos Nkosazana Dlamini-Zuma, Bheki Cele en Ibrahim Patel die kans aangegryp om hul diktatoriale ideologie te laat botvier. Hulle het hulself deur die absurde aard van hul maatreëls onsterflik belaglik gemaak.

Tog het die waarnemende direkteur-generaal van gesondheid, dr. Anban Pillay (ongetwyfeld aangepor deur Dlamini-Zuma, asook sy minister, dr. Zweli Mkize) ’n ondersoek teen Gray geëis omdat sy “vals bewerings” teen die regering gemaak het. Waarmee die regering sy ideologiese onderrok opnuut ver laat uithang het: Niemand mag kritiek op die beleid uitspreek nie.

Onder dié druk het die MNR sy slap rug getoon deur die regering nederig om verskoning te vra. Gelukkig het ’n groep van 250 prominente akademici teruggekap deur die ondersoek na haar te veroordeel en haar reg op vryheid van spraak te verdedig. Gisteroggend het die MNR die ondersoek teruggetrek.

Nietemin, dié episode wys hoe ’n groep ideologies besete en magsbeluste politici ’n belangrike openbare debat kan beduiwel.

Let wel: Ek is geen epidemioloog nie, en ek kan nie uit my eie ervaring en kennis oordeel presies hoe ver enige owerheid se maatreëls moet gaan nie.

Ek het wel – hopelik – ’n gesonde verstand, en ek kan nie sien hoe ’n verbod op die verkoop van rookgoed en alkohol, en absurde voorskrifte oor die verkoop van kledingstukke die verspreiding van die siekte kan beperk nie.

In veral Noord-Europa was die vergrendeling nie naastenby so streng nie, en daar is die siekte goed hokgeslaan.

Die punt is dat die ANC/SAKP se Stalinistiese verlede op oomblikke soos dié weer sterk die oorhand kry. Dit moet beveg word.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.