Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As die politici landsburgers in die steek laat

’n Paar weke gelede sit ek saam met Llewellyn MacMaster, moderator van VGK Kaapland, in ’n beskeie huisie in Harare en luister na die verhale van stukkende Zimbabwiërs. Ons is op uitnodiging van diep bekommerde Zimbabwiërs daar.

Die een afspraak ná die ander volg: Regslui vir Menseregte, wat die meer as 1 000 mense wat die afgelope tyd in hegtenis geneem is, bystaan; ’n nieregeringsorganisasie wat gemartelde inwoners behandel het (meer as 300 in die afgelope maand); akademici; oudpolitici en kerklui. ’n Prentjie van ’n verslegtende situasie word oor en oor geskets.

Zimbabwe is tans vir alle praktiese doeleindes ’n militêre staat wat nie deur die reg regeer word nie, maar deur vrees. Dit is ’n land waar die onluspolisie nie met rubberkoeëls skiet nie, maar met AK47’s. Die afgelope tyd is 17 burgerlikes immers doodgeskiet.

Maar so sit ons die middag en luister na past. Evan Mawarire, wat internasionale bekendheid verwerf het met sy patriotiese en simboliese #ThisFlag-protesoptrede. Met sy onlangse verhoor was daar 100 prokureurs in die hof om hom te ondersteun en duisende ondersteuners buite die hof.

Hy is pas op borgtog uit nadat hy van hoogverraad aangekla is. Hy is egter duidelik getraumatiseer ná sy ervaring in die Chikurubi-gevangenis. Tog straal daar ’n vreemde innerlike krag uit hom uit, wat jou laat verstaan hoekom soveel Zimbabwiërs hom volg.

Ons het nooit ooit kon droom dat hierdie regering so teen sy eie mense sou optree nie . . .

’n Paar van sy opmerkings het ons tussen die oë getref: “Ons het nooit ooit kon droom dat hierdie regering so teen sy eie mense sou optree nie . . . Ek wil nie die regering omverwerp nie, maar wil opstaan vir mense wat tans in groot lyding verkeer. Ek het deel geword van ’n stryd sonder dat ek daarvoor gekies of aangemeld het.”

En dan volg die woorde wat ek nie maklik sal vergeet nie: “As ons nie die denke en optrede van die politici kan verander nie, moet ons voortgaan om gewone burgerlikes te inspireer om vir hul land op te staan.”

Soveel vrae hang steeds oor die wettigheid van vorige verkiesings. Gerugte doen oor en oor die ronde dat toksiese kartelle – insluitend senior regerings- en weermagleiers – sleutelbronne en -reserwes in die ekonomie beheer.

Voeg daarby al die aanduidings dat Zanu-PF ernstige binnegevegte beleef en jy besef hier kom ’n ding. Akademici is daarvan oortuig dat Zanu-PF die volk “verloor” het.

Maar hoe raak dit my en jou? Ons is nie die verlossers van enige volk nie. Ons kan egter net elke dag ons klein boublokkie neersit en doen wat ons moet doen. Ons kan ons spreekwoordelike twee vissies en vyf brode na die tafel bring. Die een ding wat ons nie mag doen nie, is om stil te sit en niks te doen nie.

  • Dr. Hanekom is die direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Korrupsie  |  Politici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.