Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As dinge ná duisende jare skielik weer lewe kry
Heinz Mödler

Min dinge ruik so lekker soos ’n vars brood. Maar al is die brood vars uit die oond, beteken dit nie die gis wat gebruik is, is nuut nie.

Veral nie as die bakker Seamus Blackley is nie. Blackley, ook ’n fisikus en meer bekend as skepper van die Xbox, het onlangs ’n brood gebak met gis wat glo nagenoeg 4 500 jaar oud is.

Die mikrobioloog Richard Bowman en Egiptoloog dr. Serena Love het ’n metode ontwikkel om oeroue gis uit die porieë van antieke Egiptiese potte, wat destyds gebruik is om brode mee te bak, te herwin.

Versigtig het hulle klein stukkies oorblywende gis versamel tot hulle genoeg gehad het om vir Blackley te gee en hy het hierdie gis in plaas van sy gewone gis gebruik om ’n brood mee te bak.

Ná al hierdie duisende jare het die dormante spore skielik weer lewe begin kry nadat dit aan hitte en vog blootgestel is – genoeg lewe om voldoende koolstofdioksied af te skei vir brood om te rys.

Sade en gis kan letterlik vir duisende jare oorleef. Sade wat vir duisende jare in stof lê, wag net vir die regte oomblik om te ontkiem – soos die palmsade wat argeoloë op die historiese bergvesting Masada op die rand van die Dooie See in Israel, uitgegrou het.

Dié sade, glo afkomstig uit die tyd toe koning Herodes die Grote palmbome rondom sy paleise daar geplant het – glo tussen 37 v.C en 31 v.C – het meer as 2 000 jaar in die stof bo-op Masada gelê.

Die oudste sade wat al ontdek is, is die van die Silene stenophylla-plant.

Nadat die sade geplant en water gegee is, het dit ontkiem om nuwe palmboompies te vorm.

Maar sade hoef nie net in ’n woestyn te wees om vir jare te oorleef nie – dit kan selfs in ysige areas gevries wees en nog altyd oorleef.

Die oudste sade wat al ontdek is, is die van die Silene stenophylla-plant.

Argeoloë was op soek na Siberiese eekhorinkies wat in die Ystydperk uitgesterf het, en met hul opgrawings 20-40 meter onder die oppervlak is ongeveer 600 000 van die bevrore sade op die oewer van die Kolymarivier in Siberië, ontdek.

Dit is moontlik dat die eekhorinkies die sade in die somermaande versamel het as kos vir die lang, ysige winters.

Koolstofdatering van die sade het hul ouderdom as 32 000 jaar oud bevestig.

Koolstofdatering van die sade het hul ouderdom as 32 000 jaar oud bevestig. Van die sade is ontdooi en geplant, en binne ’n paar weke het daar S. stenophylla-plantjies opgekom.

Die Russe beweer dat die aanwesigheid van sukrose in die sade die rede is waarom dit so lank oorleef het, maar eintlik is niemand nog seker oor die redes nie.

Wat fassinerend is, is dat die wit blommetjies van hierdie oersade effens anders lyk as die blom van die moderne S. stenophylla-plant.

Hierdie ontkieming van die oer-sade het botaniste baie opgewonde gemaak, want dalk kan plante wat eeue gelede al uitgesterf het, weer ons planeet verfraai indien van die sade ontdek kan word.

Nie al die sade wat ontdek is, gaan plantjies word nie, want die grootste gros gaan gestoor word vir die nageslag.

Die S. stenophylla-sade sal waarskynlik baie tuis voel tussen amper ’n miljoen ander sade wat teen -18 °C in die Svalbard-wêreldsaadkluis by Spitsbergen, Noorweë, bewaar word.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Plante  |  Brood  |  Natuur  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.