Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As dit nie meer belangrik is om te verjaar nie
Johan van Wyk

Om jou verjaardag nog saam met jou geliefdes te kan deurbring wanneer die einde, menslik gesproke, nie meer te ver in die verskiet lê nie, is ’n voorreg, al steur ek my al hoe minder aan myne.

Daar kom ’n tyd in jou lewe dat dit nie meer belangrik is om te verjaar nie.

Uit vrees dat vriende en familie dit soos ’n uitnodiging na ’n huweliksonthaal (met ’n lysie van wat die egpaar graag as ’n geskenk sou wou hê) as ’n rekening sal beskou, nooi ek ook nie meer mense amptelik na my verjaardagpartytjie nie.

Wie dit onthou en kom, kom. Wie nie, nou ja, dan is dit ook maar reg só. Om die waarheid te sê, ek wil eintlik glad nie meer verjaar nie. Wat is ’n verjaardag anders as bevestiging dat jou lont nog ’n ent korter is ?

Om dus in ontkenning van oudword te leef deur jou nie aan jou verjaardag te steur nie, is dalk nie ’n slegte idee nie.

Op ’n manier trek jy die ouderdom daarmee ’n streep. Hoewel net tydelik. Een of ander tyd gaan hy jou kry. Niks behalwe die dood en belasting is sekerder as ouer word nie – niemand ontvlug dit nie.

Jy hoef nie ’n cowboy te probeer wees en nie op spesiale geleenthede oor en saam met jou kinders te huil nie.

Ek verlustig my egter steeds in my kinders se verjaardae, hoewel ek, al is hulle steeds in die fleur van hul lewe, nie nalaat om telkens wanneer ek hulle gelukwens hulle daaraan te herinner dat die dae van hul jonkheid tydelik is en vir seker ook verby sal gaan nie.

Dalk het ek my dit verbeel, maar toe ek my dogter, pas 44, ná die ouerlike samesang in stemme – let wel, van die gebruiklike “Geluk, liewe Sussie, dat jy verjaar, mag die Here jou seën en nog baie jare spaar” – daarvan verseker en my gelukwensing met Doris Day se “Enjoy Yourself (It’s Later Than You Think)” afsluit, kon ek aan haar stem op die selfoon hoor daar is ’n knop in haar keel. Soos daar ook in myne een was.

Pa’s, gryse vaders, raak mos maar week wanneer hul kinders verjaar.

En hoekom nie? Al sê hulle ook “Cowboys don’t cry”. Wat natuurlik nonsens is. Jy hoef nie ’n cowboy te probeer wees en nie op spesiale geleenthede oor en saam met jou kinders te huil nie. Ek doen dit maklik en lekker. En ek is nie eens ’n cowboy nie.

Só het hulle maar, om ’n tranedal te keer, my nou al verbied het om op familiebyeenkomste ’n woord te spreek, selfs ’n tafelgebed te doen, en hulle knyp my as my stem breek wanneer ek dit wel doen. Gelukkig het my kleinkinders intussen ’n tafelgebed aangeleer.

Dit beteken egter nie dat my trane tot ’n einde gekom het nie. Baie meer is op pad. Ek wag nou juis vir die rekening van my dogter se verjaardaggeskenk. Ek vermoed dit gaan my aansienlik meer kos as die tuisgemaakte lappop wat sy as geskenk gekry het toe sy 40 jaar gelede ’n vierjarige poplap met rooi wange en boksterte was.

Soos in die verbleikte blaaie van ’n ou foto-album, oop langs my waar ek hier sit en skryf, die lappop op haar skoot, soos sy eens op my skoot gesit het.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Gedenk  |  Ouderdom  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.