Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As duisternis toesak, praat ek Afrikaans

Ek raak net in Afrikaans angstig. Dis vreemd, nè.

Piet Matipa

Wanneer ek bang of angstig is, vergeet my brein hy kan meer as een taal praat. Hy sukkel om een voet voor die ander te sit om by ’n Engelse of Zoeloe-woord uit te kom. Hy gryp hier en daar aan ’n Afrikaanse woord en koeksister dit met Engels om te poog om sin te maak.

Ek het altyd gedink ’n mens kan in alle tale enige emosie voel of uiting gee aan dié emosie, maar die verstand is maar dom wanneer dit daarby kom.

Angs is mos ’n soldaat van vrees, of hulle is broers?.?.?. Of hulle het saam grootgeword. Dalk is hulle in ’n onwrikbare langtermyn-verhouding. Niks kan die band tussen die twee wetters breek nie. Hulle val eerste die siel aan. Dit manifesteer deur die liggaam. Die liggaam kan ongelukkig nie vir homself opstaan nie. Hy het die siel nodig om hom te help.

Op hierdie punt: Kan ek van die pad afdraai en net noem watse verraaier die liggaam kan wees? Jy versorg dit en voer dit en smeer dit met die duurste room. ’n Stampie hier is al wat dit vat om ietsie te breek. Mettertyd vergaan hy. Die liggaam is ook maar ’n onbetroubare slet. Dit laat maklik enige virus of siekte in. Blykbaar baklei dit.

Al wat ek sê is, dit moet dieselfde opleiding as angs en vrees kry, want daai twee is meesterlik in wat hulle doen.

Terug tot die aanvanklike punt wat ek wou maak. As ek bang is, kan ek net in Afrikaans bang wees. Ek kan wel kwaad word in ander tale. Daar weet die brein waar om ’n vloekwoord te gaan pluk en ’n slegsê-ding te gaan haal. Dit skarrel nie soos wanneer vrees die liggaam ingedring het nie.

Wanneer woede soos ’n veldbrand oorneem, sit die brein die bek aan die werk. Daarom kom ’n mens so in die moeilikheid wanneer jy uit bedonderdheid reageer. Die brein sorg dat die vuur gespoeg en die slange gevang word.

Dan raak die lippe droog, want die liggaam mors nou al die water op die res van die lyf.

Ek het die brein probeer oplei om meer as een taal te praat wanneer dit by vrees en angs kom. Hulle sê mos as jy angstig of bang is, moet jy diep asemhaal. Eerstens is dit ’n probleem, want jy vergeet om diep asem te haal. As jy dit wel regkry, vind jy dat die vrees nie skrik vir ’n ekstra bietjie lug nie.

Die liggaam, die swakkeling, besluit om verder deel te neem aan die aktiwiteit van vernedering. Dit begin te sweet. Dit wys nou vir almal dat jy bang is. Dan raak die lippe droog, want die liggaam mors nou al die water op die res van die lyf. Dan begin ’n mens bewe om behoorlik te wys dat vrees koning is. Daar is seker biologiese verduidelikings vir die gebeure – ek gee nie om nie.

Tydens die uur van duisternis is daar ten minste een voordeel. Jy kan jouself uitdruk in ’n taal wat jou veilig laat voel – kyk hoe kruip ek weer gat?.?.?. LOL.

Meer oor:  Afrikaans  |  Piet Matipa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.