Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As ek fondse kon hê om ’n fees te reël . . .
Annelie Botes

Dit gebeur gereeld dat ek my by van ons land se groot kunstefeeste bevind. Allermins om fees te vier, want uitgewers stuur my om te gaan werk.

Maar ek is nie ’n feesmens nie. Die hooibale, poeiergrond en stowwerigheid gee my ’n verstopte neus. Botsende musiekklanke vanaf oop verhoë veroorsaak ’n byenes in my kop.

Die gebrek aan rusplek in die skaduwee besorg my sonsteek. Voeg daarby die ewige reuk van warm olie en dis so goed of ek het ’n chroniese gal-aanval.

Behalwe uitmuntende verhoogproduksies, en soms iets power, is feesstalletjies oraloor eenders: gekerfde houtdiertjies, handgemaakte seep, inlêgoed, kraletjieswerk, sagte speelgoed, vatlappe en teemusse, springkastele, klere wat jy nie kan aanpas nie. Met hoë uitsondering is kosstalletjies ook maar die saaie ou selfde.

En bykans alles is dúúr. By feeste, kattebakverkopings en basaars behoort daar winskopies te wees om mense te trek, reken ek. Helaas is dit verreweg nié so nie.

As iemand vandag vir my onbeperkte fondse voorsien en sê ek moet ’n fees reël wat kompleet anders is as al die bestaande feeste, sal ek ’n Fees van Oordenking reël.

As iemand vandag vir my onbeperkte fondse voorsien en sê ek moet ’n fees reël wat kompleet anders is as al die bestaande feeste, sal ek ’n Fees van Oordenking reël.

Toe ek in 2004 by Granny was, het haar beneukte dogter my op ’n dag weer eens soos ’n voetvel behandel. Om op te maak, het sy een naweek ’n aflosoppasser gekry en my na ’n spirituele fees geneem. ’n Unieke belewenis, voorwaar.

Iedere boekbespreking of verhoogdrama kon verbind word met die spirituele kant van die mens. Die kosstalletjies het goed verkoop soos kruiepatee, naanbrood, trosse dadels en rosyne, ongesuurde broodjies, heuningkoeke, vyetameletjies, ingelegde granate en mosterdsade, katjiepieringwater, lamsvleisbredie. Alles volgens die Heilige Geskrifte.

Die ander stalletjies was fassinerend. Kerse, wierook, tjalies, dissipelsandale, kopdoeke, linnerokke, silwerware, voetspa’s, bidkrale, koperarmbande, kristalvase, gebreide diervelle.

Stalletjies waar jy ’n foto van jou aura kan laat neem, palmlyne laat lees, met reukolie gemasseer word.

Oral op die terrein was water- en wensfonteintjies. Paadjies gepak met rivierklippies. Ruwe klipmuurtjies om op te rus onder skadubome.

Wat my die meeste aangestaan het, was die meditasiemusiek. Meesleurend, herinnerend aan ’n monnikkoor wat in die verte sing. Ewe heilig was die koperkerkklok wat op die uur beier.

Dan staan die feesgangers roerloos tot die eggo wegsterf. Oral sit vreemdelinge kruisbeen in sirkels met brandende kerse en geslote oë. Niemand hardloop, praat hard of loop met ’n bier rond nie. Op élke gesig staan vrede geskryf.

Hoe só ’n fees in ons land van braaivleis, brandewyn, boeremusiek en die waterstewelriel ontvang sal word, is gewaagd om te raai.

Maar dís wat ek met my borgfondse sal reël. Sodat die prinsiep van stilte en oordenking ons vir een naweek kan omring.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Fondse  |  Fees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.