Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As ek vandag ’n wensbeentjie vir SA kan breek
Nolan Venter

Nou anderdag smul ek aan ’n plaasvars werfhoendertjie uit my eie plattelandse hoenderhok.

Een van die nadraaie van Paasfees is mos ’n kerrievisbabelaas. Kombineer uie en kerrie met asyn, dan het jy die ideale resep vir ’n sooibrand wat skrik vir niks.

Dis toe ek na die hoender se V-vormige wensbeentjie in die bord voor my kyk dat nostalgie my behoorlik beetpak en my gedagtes bolmakiesie na die verlede slaan.

Ek bevind myself weer op die jonge ouderdom van tien jaar voor Ouma se hoenderhok op my geboortedorp. Gebukkend staan sy langs my met haar kenmerkende koeksustervlegsels wat voor by haar bors afhang.

“Vang daai swernoot met die stomp bek,” gebied Ouma my.

In een van die neste in die hok lê twee gebreekte eiers. Die verbleikte gras is goudgeel deur hul inhoud verkleur.

“Wat nie hoor nie, moet voel,” sê Ouma toe die geslagte hoender later in die sinkwasskottel lê.

Jaloesie vind ’n mens selfs in geveerdes se gene. Twee dae tevore het Ouma dese hennetjie se snawel stomp gebrand omdat sy altyd die broeis henne se eiers stukkend pik. Self het sy nog nooit ’n enkele eiertjie gelê nie. Vanselfsprekend het dadels van Ouma se plan gekom.

Binne ’n oogwink is ek in die hok. Midde ’n oorverdowende gekekkel probeer ek haar vang. Maar dis mak­liker gesê as gedaan. Hoenders fladder in alle rigtings rondom my heen.

“Pasop dat jy ook nie nog die ander eiers stukkend trap nie!” maan Ouma my.

Ná vele probeerslae, wat my telkens met ’n handvol vere gelaat het, het ek uiteindelik die hennetjie aan haar pote beet.

“Wat nie hoor nie, moet voel,” sê Ouma toe die geslagte hoender later in die sinkwasskottel lê.

Ek gaan sit wydsbeen voor die skottel nadat Ouma sorgvuldig ’n ketel kookwater oor die hennetjie uitgegooi het. Dan begin ek flink met die vereplukproses.

Die sagte donsvere gooi ek in ’n kartondoos langs my. Ouma gebruik dit as vulsel vir kussings. Voorts soek ek die beste penvere uit. Dít bêre Ouma in haar en Oupa se bedkassie.

As Oupa se rug pyn van die nagwerk se swaar balies, druk sy ’n veer in ’n bottel met Sloan’s Liniment en smeer sy rug daarmee.

Vroeg reeds het Ouma my geleer om die magie netjies met ’n mes oop te sny. Nadat ek dit in die verewater skoongespoel het, moet ek die binnekantste nerf sorgvuldig aftrek. Ouma laat dit uitdroog en maak dit dan fyn. Dis glo die beste kuur vir maagkwale.

Met heimwee neem ek die wensbeentjie uit die bord voor my. Nou moet ek net iemand kry om dit saam met my tussen ons pinkies vas te knyp. Nes ons in my kinderdae gedoen het. Vele van my kinderwense is bewaarheid deur ’n wensbeentjie wat in my guns gebreek het.

En hier kort ná ons verkiesing het ek ’n groot wens. As die grootste gedeelte van die beentjie maar net in my guns kan breek . . .

Meer oor:  Nolan Venter  |  Herinneringe  |  Hoenders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.