Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As Harry, Meg en baba Sussex Rosestad tref
Johanna van Eeden

Die Rosestad moet hom maar staal. Die Ingelse is weer op pad.

Dié keer is dit darem 2019 en nie soos in 1900 nie. En die bleekbene kom val nie in met die Slag van Paardeberg nie.

Nee, Bloemfontein, kan solank sy roosbeddings omspit vir die Slag van Sussex.

Prins Harry en sy Meghan se eersteling is nog skaars gebore, of die paleis maak al klaar planne vir die gesinnetjie om na Afrika te verhuis.

Die idee is “om Harry en Meghan se rocksterstatus ten volle te benut”. Moet egter geen vertonings by die Aasvoëlklub verwag nie.

Die eintlike kap agter die Ingelse byltjie is glo om ruimte te skep sodat prins William homself ordentlik kan voorberei op sy rol as koning. Dis blykbaar ’n moeilike taak as jou kleinboet heeltyd onder jou voete is.

Moet egter geen vertonings by die Aasvoëlklub verwag nie.

Nou waar sal ’n mens ’n beter plek vir die jong gesinnetjie kry as Bloemfontein? Dan is Harry mos lekker naby om af en toe deur te skiet Lesotho toe om ’n wakende ogie te hou oor die sentrums vir vigswesies wat hy daar begin het.

Veiligheid behoort nie ’n kwessie te wees nie, want die tweetjies en die pienkvoet Sussex kan seker veilig gaan nesskop daar in Woodland Hills. As hulle mettertyd leer om daardie lastige slaggate in Nelson Mandelarylaan mis te ry, behoort hulle heelhuids daarvan af te kom.

Naweke kan hulle soos ware Bloemfonteiners gaan uithang by die Boeremark en hulle verlustig aan halloumikaas met geelsout en skilpadjies wat op die kole gebraai is.

Sondagaande word ouma Lizzie geSkype.

Soggens sit Meghan en smul aan ’n skon met room en aarbeijêm en vul Volksblad se crossword puzzle in.

Soggens sit Meghan en smul aan ’n skon met room en aarbeijêm en vul Volksblad se crossword puzzle in. Dis nou terwyl Harry teen Naval Hill uitdraf om fiks te bly, telkens steeds verwonderd oor die nuwe kameelperdjie, Pakesa, wat so skalks vir hom bly loer.

Saterdae om 07:00 tree die Sussex-gesinnetjie – baba knap vasgegespe in een van daardie viertrek-babawaentjies wat ’n plaas se prys kos – wéér op Naval Hill aan vir die CityRun. Salig onbewus van enige onmin wat die wedloop ooit voorafgegaan het.

Meghan neem soms kunsklasse by die Oliewenhuis-kunsmuseum. As Harry na sy ouboet verlang, gaan gesels hy met die clivias wat in oordaad in die Botaniese Tuin blom. Vir hul eerste Kerskaartjie uit Afrika poseer hulle soos wafferse toeriste aan die voete van Madiba.

En so raak hulle mettertyd ingeburger in die Rosestad. Gaan kyk jaarliks oopmond na die skaapskeerkompetisie by die Bloemskou, laat hul kleinding in die konkatreintjie ry by die Vrystaat Kunstefees en luister jazz by Macufe.

Doodgelukkig. Dolverlief. En doodveilig. Al hul doen en late word per GPS deur die Britse geheimediens gevolg. Dié kan niks vreemds sien aan die Sussexe se verblyf in Bloemfontein nie.

Behalwe dat die tweetjies draaie ry om Monumentlaan waar ’n sekere gedenknaald is.

Johanna van Eeden is ’n vryskutjoernalis.

Meer oor:  Baba Sussex  |  Prins Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.