Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As hutsmerk magtiger as die swaard is

Wat kan iemand vir jou sê wat so erg is dat jy daardie persoon iewers wil gaan aangee?

Dis die lakmoestoets wat my vriendin Suléne voorstel toe ek en sy dié week sit en praat oor my vrees om binnekort weer te begin klasgee. Waarom? Want ek is bang vir mil­len­niërs . . .

Gerhard van Huyssteen

Ek is bang om op my PowerPoints voorbeeldwoorde uit Maleis in skuinsdruk te plaas, want dalk word ek aangekla van profilering van die Ander. (Dis nie verregaande nie. Die jong Filippynse skrywer Isabel Yap het onlangs eiehandig besef dat sy besig is met be-ander-ing (“other­ing”) as sy in haar Engelse fiksie anderstalige woorde in skuinsdruk plaas. #ItalicsMustFall)

Ek is bang dat, wanneer ek vir hulle die morfologiese proses van inkorting verduidelik, ek nie die korrekte letters in die regte volgorde van die LGBTQQIP2SAA+-akroniem sal gebruik nie.

Ek is bang om morfologiese verskynsels in verskillende dialekte aan die hand van voorbeelde te illustreer, want dalk word ek van kultuurtoe-eiening (“cultural appropriation”) aangekla. Of miskien brandmerk die klem op Afrikaans se varië­teite my dalk as ’n liberalistiese kommunis wat te veel klem lê op ’n inklusiewe beskouing van Afrikaans.

Ek is bang om morfologiese verskynsels in dialekte aan die hand van voorbeelde te illustreer.

Ek moet dalk nie meer die morfologie van manlike en vroulike persoonsname verduidelik nie, want dit etaleer dalk genderbinarisme wat iemand ongemaklik kan laat voel. Maar as ek dit uit die kurrikulum weglaat, maak ek my dalk juis skuldig aan ontkenningsideologie (“denialism”).

En ek is bang om hulle “gogga”, “bokkie” of “skapie” te noem, soos ek hulle – mý studentkinders – nog al die jare liefdevol noem. Dalk moet ek ook maar voortaan formeel volstaan met ’n dames-en-here? Maar o wee, dan is ons terug by binarisme, by alliansieskap (“allyship”) en dat ek dalk nie bewus-empaties (“woke”) genoeg is nie.

Die skrywer-joernalis Christopher Hitchens skryf: “Those who are determined to be offend­ed will discover a provocation somewhere. We cannot possibly adjust enough to please the fanatics, and it is degrading to make the attempt.”

In die 1970’s is ons gemuilband deur wette en publikasierade. Ons spraak is in die 1990’s kortstondig bevry deur ’n wêreldwyd volprese Grondwet.

En nou? Nou word ons ingekerker deur ’n tydsgees wat uiteindelik geleer het: Die hutsmerk is magtiger as die swaard. #hiephiephoera

Meer oor:  Woordwisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.