SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
As Jan Taks ’n bespotting word

Daar was ’n tyd in hierdie land dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) selfs die wêreld se verbeelding aangegryp het. Ons land se belastingsake was in goeie en bekwame hande.

Johann Maarman

Dit was die tyd toe Pravin Gordhan nog die taksbaas was en misdaad-kartelle en belastingontduikers so bang was vir Johann van Loggerenberg, Ivan Pillay en Pete Richer soos die duiwel vir ’n slypsteen. En jy ’n segsman in Adrian Lackay gehad het wat sy vinger op die pols gehad en die SAID se boodskap helder en duidelik kon oordra en verwoord.

Maar toe word hulle die slagoffers van staatskaping en deur Jacob Zuma se hosanna-dansers verguis en in die pad gesteek omdat hulle die kripvreters ongemaklik laat voel het.

Die hand wat die wieg beweeg het, was ’n skatryk Indiese familie – die Guptas. Die Gupta-familie het daarna die SAID soos ’n viool gespeel en een van die land se trotse instansies tot op die grond afgebreek. Dit was die seisoene van steel en plunder. Die staatskas het die persoonlike bankkaart van die Guptas en hul sikofante geword. Dit het pap gereën en elkeen wat ’n verbintenis met die Guptas gehad het, het ruim geskep. Dit was geil tye en die snoete het geblink.

Tom Moyane en sy kohorte het gemaak en breek soos hulle wil en finansiële dissipline is by die venster uitgegooi. Dit was nou hul tyd om te eet, want die wagters op die SAID se mure is uitgewerk en dié gespuis het die SAID so gemelk dat net ’n geraamte oorgebly het van ’n eens legitieme en geloofwaardige instansie.

Hoe diep die verrotting in die SAID is, het hom die afgelope week gemanifesteer in die skandalige onderhoud met Mmamathe Makhekhe-Mokhuane, die SAID se hoof van digitale inligting en tegnologie. Die vrou wat meer as R3,3 miljoen per jaar verdien, kon nie een sobere antwoord gee nie en was so verdwaas soos ’n haas in ’n kollig. Haar gebrabbel het haar die dwaas van die week gemaak. Sy het nie geweet of sy kom of gaan nie en het nie net haar naam met ’n plank geslaan nie, maar ook die indruk gewek dat sy nie eintlik weet wat by die SAID aangaan nie. 

’n Mens het die indruk gekry dat sy soggens net vir rooibostee en skons by die werk opdaag en dan een of twee mini-vergaderings hou en dan weer tjaila. 

Sy had geen benul gehad van hoe inligtingstelsels werk nie (dit is ten minste die indruk wat sy gewek het) en kon nie eens doodeenvoudige vrae beantwoord nie. Ek wil amper wed dat die ontvangsvrou by die SAID stukke beter sou gevaar het.

Sy het agterna verskoning gevra, maar dit was te laat, want die perde was reeds uit die stal.

Dit kon mense laat wonder het oor my bekwaamheid en kennis.

In die verklaring Saterdagoggend het Makhekhe-Mokhuane gesê haar gedrag, houding en handelswyse in die onderhoud en in haar verskyning voor die Nugent-kommissie van ondersoek na ongerymdhede by die SAID “kon die indruk van arrogansie, nonchalance en onprofessionaliteit gewek het”.

“Dit kon mense laat wonder het oor my bekwaamheid en kennis.”

Nee, mevrou, jy was meer as dit. Jy was ’n verleentheid nie net vir jouself nie, maar ook vir die SAID. Jy is uit die water geskiet en was uit jou diepte. om dit sagkens te stel.

Makhekhe-Mokhuane behoort die regte ding te doen, en dis om haar sakkies te pak. As dit die resultate van kaderontplooiing is, behoort die regerende party hul kop in skaamte te laat sak. 

Dis mense soos Makhekhe-Mokhuane wat die goeie bedoelings van regstellende aksie in die wiele ry. 

Wraggies, ons land verdien darem beter as sulke onbeholpenheid.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger. 
Meer oor:  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.