Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As jou lewe in ’n sekonde by jou verbyflits
Annelie Botes

Mense sê dikwels “my lewe het in ’n sekonde voor my verbygeflits”. Tien dae gelede het ek dit ervaar toe ’n volgelaaide taxi oor ’n rooi robot gejaag het.

Ek kon by voorbaat voel hoe dit my met ’n loodregte hoek tref. Dis ’n raaisel dat die doodsengel, of die engel van verminking, my nie opgeraap het nie.

Vra my nie waar die beeld ontspring het nie, maar in ’n oogknip het ek gesien hoe my ma proteas in ’n melkemmer sit.

Sy was geklee in die rok met varingtakkies op wat sy gedra het die dag toe sy my in sub A dorpskool toe geneem het. Die enigste verklaring is dat ’n ma 45 jaar ná haar dood steeds oor haar kinders waghou.

Dit sou my vere help as ek die taxi se registrasienommer kon lees. Dis tydverspilling om weke by die polisiestasie te sit in die voorwete van ’n onuitgebroeide eier. Om kalmte te kry soek ek op die internet iets oor taxi’s en verkeerswette.

Die standaarde vir die drywers, die cabbies, is verby die grense van merkwaardig.

Nodeloos om te sê, dit lees soos ’n angswekkende riller op die kortlys van die Nobelprys vir onvrede. Op dié kom ek af op stipulasies vir Londen se taxi’s, die sogenaamde black cabs. Die standaarde vir die drywers, die cabbies, is verby die grense van merkwaardig. Daar is sowat 21 000 cabs in Londen, wat daagliks beswerm word deur inwoners en toeriste.

Voornemende drywers kan nie goedsmoeds by ’n kantoor toustaan vir ’n permit nie. Hulle voltooi ’n studietyd van twee tot vier jaar, en moet mondelingse en geskrewe eksamens, bekend as The Knowledge, slaag voordat ’n lisensie toegestaan word. Daar word gereken dis dié moeilikste eksamen ter wêreld.

Daar mag nooit ’n GPS in ’n cab wees nie. Die drywer se brein word in die studietydperk ’n hardeskyf wat berge inligting móét stoor – ’n wandelende atlas van Londen. Anders kry hy nie ’n lisensie nie. Die kans om dit vir £100 of wat te “bekom” is 0%.

Om dié “atlas” ligweg aan te raak: 25 000 strate, 320 roetes, 20 000 bakens soos toeriste­aantrek- likhede, teaters, restaurante, museums, parke, sportkomplekse, hospitale, banke, kerke. En hy moet uit den hoofde goeie kennis dra van elke baken se aard en geskiedenis.

Drywers dra hul eie studiekoste. Die internet vertel van ’n drywer, Matt McCabe, wat in drie studiejare nagenoeg 50 000 myl op ’n motorfiets afgelê het ter voorbereiding van The Knowledge. Genugtig, dis twee keer rondom die wêreld!

Boonop moet cabbies hoogs vaardige, hoflike bestuurders wees, en die voertuie hospitaalskoon. Padongelukke waarin cabs betrokke is, is minimaal. Vir ’n cab-drywer om oor ’n rooi robot te jaag, net één maal, sal sy ondergang wees.

Wat kan ek sê van die sowat 70 000 taxi-ongelukke per jaar in Suid-Afrika? Dis 192 per dag. Op ’n haarbreedte na het ek langs die silwer riviere gesit met my harpie.

Dis vandag Vrydag die 13de. Ons moet hoop die moeders Daarbo sal oor ons waghou.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Lewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.