Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As jou man se as begin vibreer

NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE.

As is nie net verbrande hout nie. Dit kan ook die oorblyfsels van ’n geliefde wees. As jy dus sit met ’n kissie vol as en ’n kop vol planne, hier is jou opsies, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Die mens het nog altyd op ’n kreatiewe manier met die dood omgegaan: uitgebreide seremonies, spandabelrige graftombes, piramides en marmergrafstene.

Die afgelope paar dekades word mense al hoe meer veras. Verassing geskied gewoonlik deur menslike oorblyfsels te verbrand, wat my nog altyd aan die Vagevuur herinner het. Deesdae bied Avbob egter ook ’n proses wat aquamation genoem word en waar water, temperatuur en alkali-elemente gebruik word vir ’n “ekovriendelike” proses.

Ek het al self gesukkel het om ’n groot plastieksak vol as (my pa was ’n groot man) in ’n klein waterstroompie te gooi – en ek weet nie of dit ’n goeie ding is nie.

Volgens Avbob is die ander voordeel van hierdie proses dat jy opeindig met ’n baie groter hoeveelheid “oorblywende as”.

Um . . .

Ek het al self gesukkel het om ’n groot plastieksak vol as (my pa was ’n groot man) in ’n klein waterstroompie te gooi – en ek weet nie of dit ’n goeie ding is nie.

Tensy jy die as in ’n houer gaan sit. Dan wil jy dit seker so vol gewese mens as moontlik hê, want van hierdie houers is nogal groot en lyk net soos fênsie blompotte.

Daar is selfs houers wat kom met ’n ingeboude iPod wat die afgestorwene se geliefkoosde liedjies speel sowel as ’n houertjie met die afgestorwene se geliefkoosde parfuum wat dan vrygelaat word sou jy die houertjie oopmaak.

Strooi eers en vra later

Maar jy hoef nie ’n duur houer aan te skaf nie. My een kêrel het sy ma se as in ’n sjampoebottel in sy motor rondgekarwei. ’n Vriendin het weer van haar pa se as in ’n kruiebotteltjie in die kombuis gebêre.

Die gebruik in Suid-Afrika is egter meestal ’n eenvoudige houtkissie met die oorledene se naam daarop gegraveer.

Sanparke kla gereeld dat mense hul geliefdes se as daar kom begrawe of die kissie in die mik van ’n boom of ’n rotsskeur bêre waar dit ... menige bobbejaan ontstig.

So ’n paar jaar terug het ’n bekende sanger sy ewe bekende pa se as – met kissie en al – in die see gegooi en toe spoel die kissie uit. Die hele stranddorpie het van die gedoente geweet want die bekende man se kissie was versier met ’n goue plaatjie met sy naam op.

Sanparke kla gereeld dat mense hul geliefdes se as daar kom begrawe of die kissie in die mik van ’n boom of ’n rotsskeur bêre waar dit die ekosisteem versteur en menige bobbejaan ontstig. Sanparke het wel spesifieke plekke waar jy die as kan bêre en jy moet dit net vooraf reël.

Om die as wyd en syd te strooi is natuurlik gewild onder diegene wat nie houergebonde wil wees nie. Maar dis nie noodwendig oral wettig nie.

As jy egter nie lus is om vorms te teken en doodsertifikate te fotostateer nie, kan jy altyd eers strooi en dan om verskoning vra. Soos die man wat sy ma se as net voor ’n belangrike wedstryd oor ’n sportveld gestrooi het. Sulke onwettige asstrooiers word wildcat scatterers genoem.

Maar al kom jy weg met ’n skelmstrooi, kan jy steeds opeindig met ’n mond vol as, want dit het die vuil manier om terug in jou gesig te waai as jy dit oor die see of in die lug probeer strooi. Daarom is daar nou vliegtuie met spesiale houers wat die as oor ’n gebied kan versprei. Selfs hommeltuie word nou vir dié doel ingespan.

Sy hoef nie ‘koud’ te gaan slaap nie

Die kunstenaar Frida Kahlo se man het glo haar as geëet en onlangs het ’n tiener haar oupa se as in koekiedeeg gegooi en soetkoekies daarvan gemaak. Die as self sal jou glo nie siek maak nie, want dit bevat nie toksiese stowwe nie en enige kieme sal verbrand wees.

Of dit ’n goeie etiese smaak in die mond laat, is egter ’n ander saak.

Die Nederlandse ontwerper Mark Sturkenboom het ’n vibrerende falliese glashouer geskep waarin die as gebêre kan word ...

Sou jy die as wou gaan strooi op ’n eksotiese plek, mag die houer vol as wel saam met jou vlieg, solank jy bereid is dat die as geskandeer word. Jy mag die as in die see, in parke en strome strooi (met toestemming), maar glad nie in Disneyland nie. Ook mag die as van geen Rooms-Katolieke gestrooi word nie, volgens ’n bevel van die Pous.

Op ’n meer passievolle noot hoef vroue ook nie meer in sak en as te sit ná ’n geliefde se dood nie. Die Nederlandse ontwerper Mark Sturkenboom het ’n vibrerende falliese glashouer geskep waarin die as gebêre kan word sodat die weduwee nooit alleen of koud hoef te gaan slaap nie.

Moet dus nie eendag op ’n vervelige ashoop opeindig as ’n lyk nie. Beplan die fantastiese verassing en strooiseremonie sommer self en sit dit in jou testament.

Jy gaan tog net een keer dood.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  As  |  Verassing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.