Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As jy dink jy lewe nog, lui dan net die klokkie
Heinz Mödler

In 1952, toe hy 16 was, het Shri­dhar Chillal van Indië sy naels geknip en die naelknipper gebêre – vir die volgende 66 jaar.

Eers in 2018, toe dié afgetrede fotograaf 82 jaar oud was, is sy naels aan sy linkerhand weer geknip, hierdie keer in New York, Amerika, met ’n klein hoekslyper.

Al vyf die naels, met ’n gesamentlike lengte van 909,6 cm, waarvan die duimnael ’n allemintige 197,8 cm gemeet het, kan vandag in die Ripley’s Believe It or Not!-mu­seum besigtig word.

En hoewel Chillal van vyf van sy meulstene ontslae geraak het, kon hy nog steeds nie sy linkerhand gebruik nie, want ná al die jare is sy hand in ’n permanente onbruikbare gestremde posisie gedwing.

’n Mens kan net dink hoe gekompliseerd hierdie professionele fotograaf, eggenoot en vader van twee se lewe moes gewees het met net een hand. Waarskynlik was sy regterhand se grootste taak om sy lang naels te beskerm.

Naels is anatomies deel van die vel en groei teen ’n tempo van ongeveer 0,1 mm per dag. Vingernaels groei omtrent dubbel so vinnig as toonnaels. Wanneer jy sterf, hou jou naels op om te groei.

Daar is ’n algemene opvatting dat naels nog vir ’n paar dae, of selfs weke, aanhou groei. Die “bewyse” hiervoor is die krapmerke wat glo al aan die binneste van doodskiste gevind is wanneer ’n lyk om een of ander rede weer opgegrawe is.

Die afleiding is toe gemaak dat die afgestorwene nie werklik dood was toe die wurms aan hom of haar begin knaag het nie. Gelukkig het die naels tydens die persoon se “hibernasie” nog gegroei en kon die ongelukkige sy of haar pad uit die graf probeer oopkrap. Hierdie teorie is ongelukkig net in gruwelfilms waar.

Eerstens is daar veels te min suurstof in die kis aanwesig om jou tot aan die einde van jou eie begrafnis aan die lewe te hou.

Eerstens is daar veels te min suurstof in die kis aanwesig om jou tot aan die einde van jou eie begrafnis aan die lewe te hou.

Tweedens het naels glukose nodig om te kan groei. Die oomblik wanneer jy jou laaste asem uitblaas, verdwyn die voorraad glukose en die naels hou op om te groei.

Indien jy ’n ongelowige Tomas is wat glo naels groei verder in die doodskis en bang is jy word dalk self te vroeg begrawe, kry dan vir jou ’n sogenaamde veiligheids-doodskis. Hierdie doodskis stel jou in staat om die buitewêreld in te lig dat jy te vroeg ingespit is.

Om dit te doen lui jy doodeenvoudig net die klokkie wat ses voet hoër as die knoppie hang. Dit is die oorsprong van die gesegde “saved by the bell.”

Terwyl jy wag, skakel jy jou kajuitliggie aan en lees jou gunsteling-boek. Sou jy duiselig voel weens te lae glukose, kan jy terwyl die manne grou vir jou iets te ete oor die interkom bestel. Maar dis nou net as jy die deluxe-model gekoop het, want dié model het selfs ’n ingeboude miniatuur- dumbwaiter in.

Die veiligheidsdoodskis het sy ontstaan gehad in ’n massiewe cholera-uitbraak in die 18de eeu, toe baie pasiënte wat as dood begrawe is, dalk net komateus was weens dehidrasie.

Selfs vandag is baie mense skrikkerig om lewend begrawe te word. Aan hulle verkoop ene Fabrizio Caselli gemoedsrus in die vorm van ’n doodskis met ’n alarm, hartmonitor, suurstof, interkom en flits.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Naels  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.