Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As jy geld gooi, gaan ander mos spring en vang?
Martie Retief Meiring

Wanneer is omkopery omkopery? Of is dit dalk onderhandeling? Of bloot ’n gewone manier om gunste te erken deur, sê nou maar, ’n bottel Johnnie Walker Black of sjokolade of ’n dik bruin koevert. Of om ’n gratis veiligheidsheining vir jou huis te skenk.

Dis nie net die hoëlui wat met hierdie etiese vraag gekonfronteer word nie. Jong ouers word dikwels deur sogenaamde raadgewers ingelig dat daardie lekkertjie om “soet te wees” niks anders as gevaarlike omkopery is nie. Die kinders kan vetsug ontwikkel of bloot nog stouter word om meer lekkers te kry.

In my onwetenskaplike redenasie noem ek dit die Gavin Watson-tegniek – ’n baie goeie ou vriend wat my feitlik niks in die lewe geleer het nie, buiten dat die enigste oplossing vir baie probleme is: Gooi net meer geld na die probleem.

Ongeskoold in die omvang van die Watson-tegnieke het ek darem self in ’n vroeë stadium geleer hoe onderhandeling (of omkopery) werk. Soms is die grens tussen omkopery en onderhandeling tog so nerfdun, hoe sal jy weet wat is wat?

Kan dit wees dat die flerrie en die gewer saam die diamant laat verdwyn het? Selfs wanneer die liefde wankel, floreer die gierigheid.

My ouers wil my koshuis toe stuur. Ek soebat, pleit, huil, belowe enigiets daarteen. Pa sê op ’n kol: Jy moenie Boeta so afknou nie. Ek belowe hartstogtelik. Ek hou op om Boeta te boelie; hy hou nie op stout wees nie; ek gaan nie koshuis toe nie. Jy wen baie, jy verloor ’n bietjie. Wat wou omkopery, dis geldige onderhandeling.

Mense wat baie ryk mense ken het my vertel hoe werk sekere dinge: ’n Diamant word met ’n verjaardag gegee. Die verhouding wankel. Die diamant verdwyn. Die dief word nooit gevind nie. Die versekering betaal nogtans uit.

Kan dit wees dat die flerrie en die gewer saam die diamant laat verdwyn het? Selfs wanneer die liefde wankel, floreer die gierigheid.

Deesdae hoor ’n mens baie van mense wat “vriendinne” het as deelgenote in “onderhandelinge”. Gestel jy is die premier van ’n provinsie . . . dit kos net ’n paar fluisteringe, ’n paar dreigemente en jou amptenare voer jou opdragte uit – selfs vir paleisagtige geboue – alles in die vriendin se naam. Ek sê maar net dis hoe ek deesdae dink / sien hoe dinge gedoen word.

Maar gaan hulle óóit daardie skim Gavin Watson vasvat? Wag tot die wederkoms?

’n Vertroostende gedagte, of dalk nie so vertroostend nie, is dat die sogenaamde opgeleide wetstoepassers en ondersoekers wel hul werk doen – teen ’n stadiger pas as slakkepas.

Maar gaan hulle óóit daardie skim Gavin Watson vasvat? Wag tot die wederkoms?

Ek ken nie vir Gavin Watson nie, nog net op ’n video gesien hoe hy toringhoë hope geld uitpak. Duidelik weet hy hoe om geld na ’n probleem te gooi.

Dat dit hoofsaaklik politici van ’n leidende party is wat so behendig kan raak vang, is indrukwekkend. Selfs vrieskaste vleis, lorries vol drank – sjoe, jy sal selfs op jou Jimmy Choos hoog moet spring om alles by te kom.

As ek nie so sinies was nie, sou ek sê hierdie optredes is alles deel van die hersiene Onderhandelinge 101.

Meer oor:  Gavin Watson  |  Martie Retief Meiring  |  Omkoopgeld  |  Korrupsie  |  Diamante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.