Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As jy ’n leeu wil binne hou
Johan van Wyk

Gaan dit nou, soos dit in die Boland hoort, weer in die vroeë winter begin reën? Kan ons, soos in Eugène Marais se gedig “Die dans van die reën”, opnuut uitroep: “Ons suster! Ons suster! Jy het gekom! Jy het gekom!” Smaak my so.

Die gekletter op my sinkdak in die nag het dit bevestig.

Ek voel jammer vir mense wat onder ’n teëldak woon. Hulle mis baie. Maar daar is raad. Maak soos die boer wat in ’n teëldakhuis op Malmesbury afgetree het.

Hy het ’n hoenderhuis met ’n sinkdak in sy agterplaas laat bou. Wanneer die weer opsteek, het hy daar tussen sy klompie Rhode Island Red-lêhenne gaan sit. Ek sweer dit het hom ook lus gemaak vir ploeg, vandag ’n vloekwoord. Maar wie sal ooit die romantiek van die nou vermaledyde ploeg vergeet? Blink skare in die son en die vars reuk van grond.

Nie ou Sarie Sonskyn nie. Hy het geglo ’n saaiery is soos ’n vryery, lekker aan die begin, maar dit kos jou later net geld. Wanneer die trekkers ná goeie reën dreun, sou hy smalend opmerk: “Die bleddie fools ploeg al weer!”

Van ’n merino, dorper en boerbok tot ’n jakkals, rooikat, ystervark en ’n leeu kan ’n gat in ’n grensheining nie weerstaan nie.

Of Hendrik Schoeman wat graag vertel het van die ontnugterde saaiboer wat ’n ploeg op sy lorrie gelaai en so ver as wat hy gery het by mense wou weet watse ding dit is. Toe hy op ’n plek kom waar niemand geweet het nie, het hy daar ’n plaas gekoop.

Dit was ook Hendrik Schoeman wat gespot het van hoe hy weet dat die boer sy watsenaam gaan sien as hy op ’n saaiplaas kom met ’n John Deere-trekker en ’n tennisbaan, nie juis ’n verleiding vir Karooboere nie. Anders as skynbaar die Karoo Nasionale Park waar ’n tweede ontsnapte leeu nou weer die wêreld op hol gehad het, is ’n Karooboer se grensheinings sy limiete.

Van ’n merino, dorper en boerbok tot ’n jakkals, rooikat, ystervark en ’n leeu kan ’n gat in ’n grensheining nie weerstaan nie. As dit nie in stand gehou word nie, sal diere daar deurkruip. Veral ná vloedskade in waterlope.

Toe Karooboere in die 1920’s hulle plase met jakkalsproefdraad begin toespan het, is klippe wat uit die ysterkliprante gegrou is vir kilometers ver aan die onderkant van die grensheinings gepak. Soos die oorblyfsels van klipkrale en klipheinings in die swaar tye voor draad is dit steeds op talle ou Karooplase te sien.

As die Karoopark sy leeus binne wil hou, moet hy maak soos wanneer ’n stilte ná lamtyd en skeertyd oor Karooplase sak en net die windpompe en ramme werk. Dis wanneer jy, terwyl jy met koffie op die stoep kyk hoe die weer opsteek, vir jou mense sê: “Gaan werk maar draad.”

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Boere  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.