Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As jy nie stem nie, stem jy vir Ace en Zuma
Charles Smith

Een stem.

Dit kan Suid-Afrika letterlik maak of breek.

As die Zuma-faksie die meerderheid in die ANC-koukus in die parlement kry ná die verkiesing, selfs net met een stem, is dit daardie stem wat die land oor die afgrond gaan laat kantel.

As Ace Magashule se parlementêre lys vol staatskapers goedgekeur word, en die agterbankers wat Jacob Zuma se vergrype in die parlement so klakkeloos ondersteun het weer subtiel bearbei word, kan die mag van pres. Cyril Ramaphosa na die Ace/Zuma-kamp terugswaai.

Dan kan ’n mosie van wantroue in Ramaphosa slaag.

En sal adj.pres. David Mabuza die leisels oorneem. Met Ace die tweede magtigste man in die land.

Met behulp van die EFF – wat waarskynlik meer as 10% stemme in die verkiesing gaan kry – kan die Grondwet gou verander word om grondonteiening sonder vergoeding grootskeeps deur te voer. Ook die privatisering van myne en waarskynlik ander sektore sal vinnig gebeur.

Voordat jy kan sê Eskom, gaan die kragverskaffer weer deur die staatskapers, gierige comrades, Guptas en ander skurke geplunder word. Kontrakte gaan links en regs soos in die tyd van Zuma uitgedeel word. Binne maande kan die sukkelende Eskom inplof, die SAL finaal sink en gaan sektore soos die landbou en mynbou begin steier. Werkers sal in massas hul werk verloor.

Met behulp van die EFF kan die Grondwet gou verander word om grondonteiening sonder vergoeding grootskeeps deur te voer.

Ons parlementêre demokrasie, wat byna in Zuma se bewind geduik het, gaan nie eens op papier werk nie. Opposisiepartye gaan van geen nut wees nie. Jy kan na Ace se geskiedenis kyk hoe hy koerante soos Volksblad en The Free State Times hanteer het, om te weet wat met mediavryheid gaan gebeur.

Dus: Sonder krag, ’n koerant en brandstof se prys wat die hoogte inskiet – asof dit nie hoog genoeg is nie – is die land nou soos Switserland teenoor wat hy dan sal wees.

Ons lewe in ’n baie gevaarlike Suid-Afrika waar alles baie duur is, maar minstens het jy toegang tot alle produkte, jou huis is iets werd, jy het versekering, pensioen, water in die huis, ’n motor, goeie skole (meestal) en jy het die reg op vryheid van spraak.

Skrap al daardie regte. Dink jou in hoe ’n gewone mens sonder werk in Harare voel waar jy met dollars moet oorleef. Dink hoe dit gaan voel as jy in die donker na ’n Pick n Pay ry met min kos op die rakke waar ’n brood R50 kos en nie een verkeerslig werk nie. Ons het die gevoel gekry met beurtkrag. Nou weet jy wat op die spel is die verkiesing.

Demokrasie in die land is nie ’n reg nie. Dit is jou plig om in stand te hou.

As jy nie stem nie, stem jy vir Ace en Zuma.

En help jy die land oor die afgrond stoot.

Meer oor:  Charles Smith  |  Verkiesing-2019  |  Stem  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.