Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As jy nie wil help, dan moet jy voel

Die meningswisseling tussen die historikus Hermann Giliomee en die afgetrede DA-LP Douglas Gibson kan moontlik tot ’n uiters interessante debat aanleiding gee.

Leopold Scholtz

Hopeloos oorvereenvoudig, wys Gi­liomee op die agteruitgang van Afrikaans as onderrigtaal op universiteitsvlak, en kla die DA daarvan aan dat hy met gevoude arms sit en toekyk.

Onder Tony Leon en Helen Zille se leiding het die DA Afrikaners se steun nooit as vanselfsprekend aanvaar nie, skryf hy, en impliseer dat Mmusi Maimane se verwaarlosing van die Afrikanerbelange kan meebring dat dié groep die party die rug toekeer.

Op sy beurt maak Gibson, ewe sterk oorvereenvoudig, twee punte: Aangesien universiteite outonoom is en dus hul eie taalbeleid bepaal, en omdat provinsies kragtens die Grondwet niks oor tersiêre onderwys te sê het nie, is Gi­liomee se verwyt misplaas.

Bowendien, sê hy, Afrikaans se belange word nie deur ’n houding soos dié van Giliomee bevorder nie, maar skrik nie-Afrikaanssprekendes juis af.

Vir wat dit werd is, hier is my stuiwer in die armbeurs.

Ten eerste, Gibson se formele grondwetlike argument is korrek. Maar dit staan mos enige politieke party vry om enige standpunt oor enige saak in te neem – ook die DA oor Afrikaans en Stellenbosch.

Gibson haal ’n uitspraak van Maimane in dié verband aan, maar hy verswyg dat die DA hom onder Maimane se leiding maar baie effens oor die saak uitgelaat het.

Wees beleefd, ja. Neem ander se gevoelens in ag, absoluut. As jy vir Afrikaans veg, veg terselfdertyd ook vir swart tale se regte.

Die indruk word gewek dat Maimane, om redes wat op sigself begryplik is, op die win van swart stemme konsentreer en die Afrikaners, ’n klein minderheid, verwaarloos (wat darem nie dieselfde as totaal ignoreer is nie).

Dit beteken talle Afrikaners kan in 2019 twee keer dink voordat hulle weer hul kruisie agter die DA trek. Maimane se skop in Zille se tande sal ongetwyfeld ook hiertoe bydra.

Gibson is in een opsig reg. Afrikaners moet versigtig wees hoe hulle vir Afrikaans veg. Dit help nie dat jy die nie-Afrikaners (en dan dink ’n mens ook aan bruin Afrikaanssprekendes) daardeur vervreem nie.

Dit beteken dat hulle uiters versigtig moet wees, dat hulle die skyn van rassisme of eksklusiwiteit moet vermy.

Dit sou byvoorbeeld rampspoedig wees om die indruk te wek dat Stellenbosch (of Potch) eksklusiewe eiendom van die wit Afrikaners moet wees.

Die tyd is verby dat die Afrikaners hul wil aan die res van die bevolking kan opdwing. Hulle moet vriende met nie-Afrikaners maak en laasgenoemdes nie in vyande omskep nie.

Maar met alle respek, Gibson maak ’n fout as hy meen Afrikaners gaan iets bereik as hulle by wyse van spreke op hul rug gaan lê in die hoop dat hul magie gekrap word. Dis nie hoe die politiek werk nie.

Wees beleefd, ja. Neem ander se gevoelens in ag, absoluut. As jy vir Afrikaans veg, veg terselfdertyd ook vir swart tale se regte.

Maar wees ook ferm. Afrikaners (én bruin Afrikaanssprekendes) vra immers nie iets wat ’n yslike guns is nie. Hulle vra die regte wat die Grondwet aan hulle toeken. Niks meer nie en niks minder nie.

Dit beteken hulle moet die Afrikaanssprekende slaprug-universiteitsowerhede wat die ANC se vuil werk vir hulle doen deur Afrikaans in die rug te steek, beskaafd aan die kaak stel. Dit beteken ook dat hulle hul spiere – pertinent geweldloos en binne die perke van die demokrasie – moet bult om hul taal te red en hul menseregte gerespekteer te kry.

En as die DA hulle nie wil help nie, moet hy maar by die stembus voel.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Onderrig  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.