Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As jy nie wil hoor, gaan superstorms jou laat voel . . .
Tony Weaver

My hart gaan uit na die mense van Mosambiek, die Oostelike Hoogland van Zimbabwe en suidelike Malawi.

Die sikloon Idai wat verlede week daar toegeslaan het, het enorme vernietiging meegebring. Luidens die eerste verslae is honderde mense dood of vermis.

Buiten beurtkrag wat vererger het omdat die kraglyne van Cahora Bassa af is, het Suid-Afrika aan die ergste gevolge ontkom, anders as met siklone soos Domoina wat in Januarie 1984 in KwaZulu-Natal gewoed en 242 slagoffers in sy spoor gelaat het.

Of die afsny-laedrukstelsel sonder naam wat KwaZulu-Natal op 28 September 1987 getref het en een van die vernietigendste storms nog in Suid-Afrika was.

Dit het baie meer skade as Domoina veroorsaak: 506 mense is in die provinsie dood, meer as 50 000 mense is dakloos gelaat, en op sommige plekke het tot 900 mm reën – net minder as ’n meter – in net vier dae geval.

“Gelukkig” – buiten vir diegene wat in sy pad was – was Idai se grootste verwoesting in die betreklik onbevolkte kusstroke noord en suid van Beira, hoewel foto’s toon dat die stad self erg deurgeloop het. Die geluk was ook aan die kant van die sukkelende Mosambiekse toerismebedryf wat onder allerlei terugslae soos die beperkte Islamitiese opstand in die omgewing van Palma gebuk gaan.

Die lewensverlies en vernietiging kon beperk gewees het as daar behoorlike omgewingsbeheermaatreëls in al drie lande toegepas is.

Die lewensverlies en vernietiging kon beperk gewees het as daar behoorlike omgewingsbeheermaatreëls in al drie lande toegepas is: In Malawi word elke beskikbare stuk grond vir landbougewasse gebruik en grootskeepse ontbossing het die land ontneem van plantegroei wat die vloedwaters in ’n mate sou kon stuit.

Onwettige diamant- en gouddelwerye in die Chimanimani-berge in die Oostelike Hoogland van Zimbabwe het steil hange in die bergreeks kaal gelaat en luidens berigte was baie van die sterftes as gevolg van grondstortings wat dorpies verswelg het.

In Mosambiek het die duisende kleinboere en vissers in die pad van die sikloon al deur die eeue geleer dat die ou sêding van “ligging, ligging, ligging” van onskatbare waarde aan dié deel van die kus is.

Hulle het hul huise verder die binneland in gebou, waar dit aan die windkant deur eindelose duinevelde en kusbos beskerm word. Dit is net die (meestal) Suid-Afrikaanse lodges wat op die strand gebou is of bo-op duine wat oor die strande uitkyk.

Tofo, naby Inhambane en gelukkig nie regstreeks in die pad van Idai nie, is ’n voorbeeld van die malligheid wat die ontwikkeling in Mosambiek kenmerk.

Agter die strook duine is ’n yslike holte wat volgens die ouer inwoners ’n seisoenale strandmeer was. Dan is daar ’n lang sanduitloper noord van Tofo waarop talle restaurante, lodges en vakansiehuise gebou is en meestal deur Suid-Afrikaners en Zimbabwiërs besit word.

Dit is onvermydelik dat wanneer die volgende groot sikloon Tofo tref, ons berigte sal lees van die “massiewe vernietiging” van die toerisme-infrastruktuur. Die waarheid is egter dat daar nooit toestemming moes gegee word vir die oprigting van baie van die strukture nie. Die sanduitloper kan eindelik selfs ’n eiland word.

Soos wat klimaatsverandering vererger, kan Idai dalk nog met heimwee in herinnering geroep word as ’n betreklike klein gebeurtenis. Die era van superstorms en Frankenstein-orkane lê om die draai . . .

Meer oor:  Tony Weaver  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.