Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As koeëls deel is van jou bestaan
Johann Maarman

Daar is die sê-ding dat mense wat in glashuise woon, nie klippe moet gooi nie – veral as jy nie in daai persoon se skoene staan nie.

Die intense debat wat nou woed oor of dit ’n goeie skuif was om die weermag na die bendegeteisterde Kaapse Vlakke te ontplooi, het heelwat emosies los geskommel.

Vir baie van ons wat in die onstuimige 1980’s in die swart woonbuurte grootgeword het, was die teenwoordigheid van die weermag ’n steen des aanstoots. Gesprekke oor die weermag is steeds emosioneel, want die breë demokratiese beweging – genoem die Mass Democratic Movement – se narratief was dat die weermag die apartheid-regime en ’n onregverdige bestel verdedig het. Die weermag en is eerder gesien as ’n vyand van die mense wat nie stemreg gehad het nie. Daar is dus nog steeds by sommige van ons inherente wantroue in die weermag.

Iewers langs die pad het ons samelewing erg siele-skade gely. Ons betaal nou duur, baie duur, daarvoor. Meestal met ons lewens.

Wanneer mense deesdae op sosiale netwerke en in gesprekke met heimwee praat van die destydse weermag, is daar diegene wat uit stille protes nie daaraan deelneem nie. Vir die bewonderaarsklub van die ou weermag was dit dalk ’n plek waar seuns manne geword het, maar dié skop-skiet-en-donner-veiligheidsapparatus het net te veel die stank van vrees saam met hom in ons woonbuurte ingedra.

Daarom is dit verbasend dat Bheki Cele, nasionale minister van polisie, uiteindelik die president oorreed het om die weermag teen gewetenlose skurke in te span – dít nadat hy vroeër nie wou byt aan weermag-ingryping nie.

Die DA het nou al die afgelope klompie jare gesoebat en gesmeek dat die weermag in gebiede met erge geweld ontplooi moet word, maar elke keer is dit afgeskiet.

Daarom is die kernvraag: Van waar hierdie hartsverandering van die regering om skiet te gee?

Bendelede is lank nie meer skorrie-morries wat met ’n Okapi-mes in die agtersak rondloop nie. Hulle is ’n weermag op hul eie, kompleet met hul eie rangstruktuur, soldate en bevelsgebiede (in bendetaal: hul “turf”).

Niemand word meer ontsien nie: nie die swanger buurvrou nie, nie die kleuter wat by die hekkie staan nie, nie die man wat sy brood op ’n eerlike manier probeer verdien nie, nie die kind wat op pad skool toe is nie, nie die bejaarde wat by die poskantoor in die ry staan vir haar welsynstoelae nie en ook nie eens die polisie nie.

Wanneer jy dus in die kruisvuur van die bendes beland, is jy maar ’n “casualty of war”.

Wanneer jy dus in die kruisvuur van die bendes beland, is jy maar ’n “casualty of war”.

Daar is min van ons wat weet hoe dit voel om elke dag, elke nag te koes vir die koeëls. ’n Mens kan nie op jou bed slaap nie, maar moet op die grond slaap, want jy weet nooit wanneer die koeël jou naam op het nie. Koeëls wat vlieg, is maar deel van jou bestaan.

Gewelddadige misdaad is tans op vlakke wat geen gerespekteerde, beskaafde land sommerso kan aanvaar nie. Misdaad in die algemeen het krisisafmetinge aangeneem.

Hoe het ons daar beland? Armoede is beslis nie ’n verskoning nie.

In my grootworddae het ons soms arm aan wêreldsgoed gevoel, maar ons was skatryk aan dít wat saak gemaak het. En selfs al het ons arm gevoel, het ons nie geroof en doodgemaak soos ons dit vandag beleef nie.

Iewers langs die pad het ons samelewing erg siele-skade gely. Ons betaal nou duur, baie duur, daarvoor. Meestal met ons lewens.

As (ongeag persoonlike grimmigheid oor die weermag) dit deel is van die regering se multidimensionele plan teen misdaad, sê ek met voorbehoud ja vir die troepe in die woonbuurte, maar tree binne die wet op met die skurke. Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Bendes  |  Bende-Eenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.