Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As maer skaap ophou wei en gaan stilstaan
Annelie Botes

Einde Oktober is ek en die gryse in die Karoo in om Cradock se landbouskou te besoek. Só ry ons deur die Bedford-wêreld, wat 16 jaar lank ons hartland was.

Waar die gryse dag vir werksdag met die Telkom-bakkie die distrik in is om telefoonpale te plant, kraaineste uit te haal, slap drade styf te trek. Dikwels het ek, beman met ’n koffiefles en padkosbak, saamgery.

Dan sit ek op ’n miershoop en kyk na die wolkbondels wat saampak voor ’n donderstorm. Of ek pluk veldblommetjies en pak ’n doods­krans vir die kraaikuikentjies wat noodwendig uit die nes gegooi moet word. Of dop toktokkies om en kyk of hulle ’n briefie dra.

My ma het gesê as daar ’n geel merkie onder ’n toktokkie se maag is, is dit ’n briefie wat hy iewers moet gaan aflewer. Ek wou altyd weet wáár daardie “iewers” is.

Op pad Cradock toe het ek so gevaarlik gehuil dat die gryse onder ’n peperboom afgetrek en vir my tee geskink het. En soos ’n vader in stilte oor my gewaak het terwyl my hart oorstroom van verdriet. Want nog nooit het ek daardie wêreld so bar en dor en groenloos gesien nie. Droë waterlope. Poeiergrond waar daar altyd plate rooigras gestaan het.

Dis lelik. Dis skrikwekkend. Dit grens aan grusaam. En ek staan magteloos.

Dit het my gebreek om te sien hoe vrek die aalwyne en doringbome by die duisende. Hoe staan graatmaer skape met hangende koppe op een plek stil, asof hulle wag vir die droogte-arend om hulle in sy kloue te kom opraap. Of ten laaste neer te vel.

Dis lelik. Dis skrikwekkend. Dit grens aan grusaam. En ek staan magteloos.

In die diepste kamers van my gemoed kon ek nie verhelp om die genade van God te bevraagteken nie. Waar ís Hy? Is dit ’n straf? Waarvoor? Tot wanneer? Hoe kry die boere dit reg om finansieel en emosioneel staande te bly?

Daar onder die peperboom het ek uitgeklim en dit was opmerklik dat daar nie eens miere in die veld is nie. Geen voël wat sing nie. Asof die natuur in swanger stilte wag. Al geluid wat ek kon hoor, was die warm bergwind wat deur die telefoondrade brom.

Dit was ’n skrale troos om te gló die vet jare sal weer aanbreek.

Wat as die reën nóg sewe jaar wegbly? Toe dink ek aan die sewe maer jare en sewe vet jare waarvan in Genesis 41 vertel word.

Dit was ’n skrale troos om te gló die vet jare sal weer aanbreek. As ’n mens ’n skaap aanskou wat ophou wei het en soos ’n standbeeld in die bloedige son staan en wieg, raak jou geloof veldun en is enigiets ’n skrale troos.

Toe praat ek met die veld, met elke kraai wat haar kleintjies probeer grootmaak, elke onsigbare mier wat ’n uitgewaaide grassaadjie aandra nes toe, met elke boer wat iewers agter die swartbruin heuwels ’n gesin moet regop hou. Want ek kon niks anders doen nie.

Terwyl ek soos ’n kind huil, sê ek stamelend die woorde waarmee Martin Ras, die boekversamelaar van Jeffreysbaai, jare gelede ’n e-pos aan my afgesluit het: “Mag dit reën waar jou lammers loop . . .”

Meer oor:  Annelie Botes  |  Droogte  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.