Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As mans die probleem is, moet hulle help oplos
Johanna van Eeden

Nog ’n jaar, nog ’n Vrouedag. Nes jy dink jy’t alles gesien en gehoor, dan tref Vrouemaand 2018 jou.

Dis die jaar waarin duisende vroue landwyd saamtrek om te betoog teen geweld, maar mans verbied om deel te neem, want mans “is die probleem”. Toe daar wel ’n paar mans opdaag, word hulle weggejaag. Dis net nog ’n bewys, argumenteer die vroue, dat mans “ja” hoor as vroue “nee” sê.

As mans die probleem is, moet hulle deel wees van die oplossing. Dit help nie vroue kla in isolasie oor mans nie, anders word dit ’n Tupperware-partytjie.

Dalk is die probleem dat mans sukkel om te luister: sien mikrofoon . . . wil praat.

Vroue is op Vrouedag weer van alle kante toegespreek deur mans.

Dalk is die probleem dat mans sukkel om te luister: sien mikrofoon . . . wil praat.

Pres. Cyril Ramaphosa het selfs ’n beraad aangekondig om te praat oor “die oorlog wat in Suid-Afrika teen vroue woed”.

Neem alles wat politici Donderdag gesê het met ’n knippie sout. Dié mans het net één ding op die brein: Verkiesing 2019.

Bathabile Dlamini, eintlik maar die minister van vrouesake, is darem ook toegelaat om iets te sê. Sy is allermins ’n rolmodel vir vroue, maar Ramaphosa moet in sy verkiesingsveldtog nog hárd vry na die ANC-vroueliga, waarvan Dlamini die leier is . . .

Op Vrouedag is ook afskeid geneem van ’n studenteleier wat haarself om die lewe gebring het nadat sy in Mei by die Rhodes-Universiteit verkrag is.

Dis meestal nie ’n vreemdeling wat sy hand teen jou gaan lig nie, maar iemand vir wie jy in vertroue jou voordeur oopgesluit het.

Khensani Maseko se vermeende verkragter is op 6 Augustus geskors en was glo bevriend met haar. Maseko se dood is ’n pynlike herinnering dat die meeste geweld teen vroue kom van mans met wie hulle die intiemste bevriend is. Dis meestal nie ’n vreemdeling wat sy hand teen jou gaan lig nie, maar iemand vir wie jy in vertroue jou voordeur oopgesluit het.

Manglin Pillay het homself darem die dag vóór Vrouedag sover gekry om verskoning te vra vir ’n meningstuk wat hy op 26 Julie gepubliseer het. Pillay skryf vroue het ’n vooraf-ingesteldheid om as versorgers op te tree en is daarom onsuksesvol op tegniese gebiede. Pillay, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs, meen meer mans as vroue beklee senior poste “weens ’n aptyt vir werklading”.

As vroue wonder of Pillay sê hulle is lui, is daar nóg slegter nuus . . . Vroue in Suid-Afrika verdien gemiddeld 27% mínder as mans vir presies dieselfde werk. En onder die 40 voorste maatskappye in Suid-Afrika is daar net een vrou wat ’n uitvoerende hoof is – Absa se Maria Ramos.

Nog ’n jaar, nog ’n Vrouedag waarop jy oorval is met beloftes, beloftes van berade en ’n magdom pienk goedjies. En die dag daarna meld jy weer aan in ’n man se wêreld.

Van Eeden is ’n vryskutjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.