Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: As mense se geduld op is
Die R43 tussen Hawston en Hermanus was Vrydag die grootste deel van die dag gesluit weens protesaksie oor grond en behuising deur inwoners van Hawston en Mount Pleasant. Foto: jaco marais

‘Dit gaan moeiliker as die eerste keer wees om die kapasiteit van die staat op te bou, want die gawe van die mense se geduld sedert 1994 is teruggetrek en die staat is deur swak regering en wanadministrasie weggevreet.”

Dit was die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel, wat verlede week sy vinger so op die pols van ons huidige onstuimigheid gesit het.

Die geskiedenis leer dat mense jare, soms geslagte lank geduldig kan wees en wag vir hul drome om waar te word, en as daar dan skielik iets gebeur wat hulle hoop gee en daar ’n belofte van verandering is, raak hulle gou sommer baie ongeduldig en dring op drastiese optrede aan.

Die mense van Suid-Afrika was sedert 1994 ongelooflik geduldig en vol begrip vir die kompleksiteit van fundamentele transformasie.

Ek was oor die jare verstom met veral swart Suid-Afrikaners se vermoë om vir die beloofde beter lewe te wag en te wag en te wag, net om te sien hoe armoede en ongelykheid dieselfde bly en selfs toeneem, sonder om revolusie te probeer stook.

Daardie “better life for all” wat die ANC verkiesing ná verkiesing belowe het, daardie “New Dawn” waarvan jy praat, wil ons nou dadelik hê – nie môre of volgende jaar nie.

Dit was eers tydens die tweede helfte van Jacob Zuma se administrasie, toe dit begin duidelik word het dat hy en sy binnekring meer in selfverryking as in ontwikkeling belangstel, dat dinge begin roer het.

Die djin het finaal uit die bottel ontsnap toe Cyril Ramaphosa in Desember tot ANC-president gekies is en hernuwing en verandering belowe het.

Al die opgekropte ongeduld en frustrasie het skielik na bowe geborrel. Daardie “better life for all” wat die ANC verkiesing ná verkiesing belowe het, daardie “New Dawn” waarvan jy praat, wil ons nou dadelik hê – nie môre of volgende jaar nie.

Vir Ramaphosa kon die tydsberekening nie slegter gewees het nie.

Nie net is die staatskas leeg en sleep die ekonomie voete nie, hy het boonop ’n verkiesing om te wen volgende jaar, terwyl groot dele van sy eie party hard probeer om hom te saboteer.

Grond het die primêre simbool van die nuwe ongeduld geword. Simboliek, geskiedenis en swart trots speel alles ’n rol, en so ook die “optics”, soos die Amerikaners sê, van die meeste landbougrond wat steeds in wit besit is.

Dit is ook waar dat daar heelwat swart aspirantboere is wat kwaad is omdat hulle nie grond in die hande kan kry nie.

Daar is die laaste paar weke omtrent elke dag ’n voorval van grondbesetting êrens in een van die stede of dorpe.

Maar die kruks is die aakligheid dat soveel miljoene swart en bruin Suid-Afrikaners steeds in krotte en hokkies in onooglike, gevaarlike en oorbevolkte krotbuurte woon. Daar is die laaste paar weke omtrent elke dag ’n voorval van grondbesetting êrens in een van die stede of dorpe.

Daaraan kan die Ramaphosa-regering relatief maklik iets doen – dit is iets wat jare gelede al gedoen moes gewees het.

Soos ek dit verstaan, is die plan om binne ’n kort tyd stukke grond in staatsbesit in stedelike gebiede te identifiseer en dit dan met titelakte en al aan mense oor te dra waarop hulle dan self hul huise volgens breë voorskrifte kan bou.

Infrastruktuur vir water en riolering sal aangelê word en mense mag die grond eers ná agt jaar verkoop nadat hulle die staat eerste reg op weiering aangebied het.

Nadat staatsgrond so opgebruik is, sal private grond geteiken word – en hier kan onteiening sonder of met geringe vergoeding ingevolge die huidige Grondwet ter sprake kom.

Dit is ’n uitstekende plan, maar net as dit vinnig en op groot skaal landwyd toegepas gaan word.

Die groot vraag is of die burokrasie, veral op plaaslike vlak, dit gaan kan hanteer en of dit sonder korrupsie gedoen kan word.

Meer oor:  Max Du Preez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.