Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As munisipale werkers maar soos Oupa was
Nolan Venter

Asof beurtkrag, ontelbare slaggate, riool wat uit verstopte mangate borrel en rommelhope wat soos paddastoele in ons dorpe opspring, nie reeds genoeg is om ons tot raserny te dryf nie, gaan staan en maak munisipale werkers ook nog die afgelope week of wat op ons klein plattelandse dorpie amok.

Hulle keer letterlik die ganse dorp op sy kop. Hulle versper die hoofstraat met klippe en boomstompe, en steek buitebande aan die brand; gooi bottels moedswillig in die teerpad stukkend.

In hul kenmerkende rooi oorpakke dreunsing hulle deur die strate en steek die inhoud van vullishouers aan die brand. Oor die dorp hang ’n dik, donker wolk en motoriste ry noodgedwonge wye draaie om die gemors in die strate.

Dis te midde van dié chaos en anargistiese gedrag dat my gedagtes na ’n munisipale werker uit my kinderdae teruggevoer word. Oorle’ Oupa. Daai was nou ’n man wat sy sout werd was. Oupa het nie ’n munisipale voertuig bestuur met ons dorpswapen op nie. Hy het ook nie die voorreg gehad om sy familie in ’n werkvoertuig rond te karwei en inkopies te doen nie. Hy het selfs nie eens die gerief van ’n etensuur gehad wanneer hy op die naat van sy rug kon lê en ’n uiltjie knip nie. Nee, sulke luukshede was arbeiders van Oupa se tyd nie beskore nie.

Hy het sy munisipale werk met Arnols en Vrystaat, sy twee esels, en sy donkiekarretjie gedoen. Oupa was nooit van ’n oorpak voorsien nie. Ook was daar nie sprake van byvoordele soos ’n mediese fonds, oortydbetaling of ’n 13de tjek nie.

Geduldig, gedienstig en gedwee. Al het hy ’n werk gedoen waarvoor die meeste mense hul neuse sou optrek.

Maar deur en ten spyte van dit alles was Oupa ’n getroue werker. Geduldig, gedienstig en gedwee. Al het hy ’n werk gedoen waarvoor die meeste mense hul neuse sou optrek.

Hy sou kort voor middernag vir diens aanmeld – winter of somer – dikwels in gietende reën en snerpende koue. Hy het dan van werf tot werf gegaan om die inhoud van die kleinhuisie-balies in die groot konkas op sy nagwa te giet en dan etlike myle buite die dorp te gaan stort.

Voor die son oor die berge begin loer, sou hy sy donkiekar op ons werf uitspan en Arnols en Vrystaat veld toe jaag nadat hy hulle gevoer en gewater het. Baie oggende sou hy na aan verkluim by die huis aankom en dan moes Ouma die primusstofie aansteek sodat hy net sy hande kon warm maak.

Ek kan nie onthou dat Oupa in sy tyd een enkele nag nie vir diens aangemeld het nie. Al het hy maar destyds ’n skrale een pond per maand vir sy harde arbeid verdien, het ek hom nooit oor sy salaris hoor kla nie.

Ja-nee, min van vandag se munisipale werkers sou by Oupa kon kers vashou. Sou daar in daardie dae verdienstelike ordes uitgedeel word, sou Oupa vanweë sy toegewydheid seker heel voor in die ry gestaan het. Want as daar nou een ding was waarop hy trots was, dan was dit sy dorp en sy werk.

As vandag se ouens maar van dieselfde stoffasie as hy gemaak was.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Oupa  |  Werkers  |  Herinneringe  |  Munisipale Werkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.