Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As ’n meisie weer lag ná weke se donker

‘K’ lag weer.

Charles Smith

Die 15-jarige meisie wat weggeloop het uit die hoërskool in Bloemfontein se oë blink as sy in die herfsmiddag uitstap.

Al is sy gehok by die skool vir drie middae. Regverdiglik, stem sy saam.

Sy maak haar handtekening op die detensie-briefie. “Ek is jammer, meneer. Ek sal môre begin met detensie.”

Sy stap uit die skool met haar rugsak oor die skouer. Vir weke het sy langs die spoorlyn ge-dwaal sonder om skool toe te gaan. Die lewe het geen sin meer gehad nie.

“Die detensie pas my eintlik. Dan kan ek huiswerk inhaal,” sê sy.

Sy het pas uit Ansa Lange, terapeut, se kantoor in Donald Murraystraat in Bloemfontein gestap ná haar eerste sessie van ’n ander-halfuur. Sy kan ’n model word, het Ansa vir haar gesê. Van nou af moet sy die hindernisse in haar pad as trappe sien om die hoogste sport te bereik.

’n Paar minute tevore het sy saam met my in die saal gesit en luister hoe ek na haar verwys toe ek oor die Marleen Smith-projek gepraat het om mense oor depressie, angs en afhanklikheid te vertel.

Twee weke gelede het ek langs haar op die spoorlyn gaan sit en vir haar die laaste boodskap van ’n leser op Facebook op my iPhone gewys. ’n Vrou wat by Marleen se roudiens in die NG kerk Berg-en-Dal was en geskryf het sy “ken die formule vir ’n suksesvolle selfdood”.

Daar is altyd hoop. En hulp, het ek vir haar gesê. Ná ’n berig oor haar het hulp ingestroom. Soos Ansa en ander beraders s’n. Sy sien Ansa volgende week weer.

K het daar op die spoorlyn ingestem om terug skool toe te gaan en weer te begin netbal speel as sy so voel. Sy is die volgende dag terug. ’n Week later het Cynthia du Toit, van Childline Free State, hulle in hul woonstel aan die verkeerde kant van die spoorlyn besoek.

Sy het vir my gedigte, opstelle en sketse gestuur. Dit was baie donker, maar dit is duidelik deur iemand wat smag na lig, hoop. Lag.

Sy het vir my gedigte, opstelle en sketse gestuur. Dit was baie donker, maar dit is duidelik deur iemand wat smag na lig, hoop. Lag.

There is no happiness. Nor confidence.

Everything is dull, This doesn’t feel lull.

Ansa het deur die lysie gegaan van simptome van depressie en angs.

Ja, dit voel soms of sy buite haar liggaam beweeg.

Ja, sy voel teneergedruk, soms lyfseer. Nou en dan het sy nagmerries.

Maar ’n uur later het sy uitgestap. Haar oë het geblink. “Ek is orraait, dankie,” het sy gesê.

Sy het haar pak met sketsboeke, potlode en penne gevat wat ’n kollega in die Kaap aan haar geskenk het. En ’n dagboek om haar gevoelens neer te pen. Die gevoel van ’n lewe wat terugkeer.

K het haar rugsak oor haar skouer gegooi. Sy het koebaai gesê. En gelag.

Meer oor:  Charles Smith  |  Selfdood  |  Depressie  |  Hulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.