Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As ons op prinse nie meer kan vertrou nie . . .

Dit is ’n skop-in-die-maag-gevoel wat iemand sal ervaar as hulle hoor ’n groot versekeringspolis, waarop hulle nog altyd gereken het, het intussen verval. Dit is wat die DA die afgelope week aan Suid-Afrikaners gedoen het.

Hul eie ontledingsproses, oor die party se teleurstellende verkiesingsuitslag, het buite beheer geraak en in ’n sirkus van verloopte beroepspolitici ontaard.

Barnard Beukman

As dit dan maar net nogmaals bevestig wat ons al lankal weet, dat ons op die prinse nie kan vertrou nie, waarheen dan?

Buang Jones, omstrede regshoof van die Menseregtekommissie (MRK), is boonop sopas beloon met ’n plek op die kortlys vir adjunk-openbare beskermer. Dit nadat hy die MRK, met sy reeds erg verweerde aansien, by ’n dryfsanddam van regsbevooroordeling ingesleep het. Om net nog by te dra tot die lang lys teenstrydighede, glo, in die aantygings teen Eben Etzebeth.

Een uitweg is dat kiesers soveel vertroue in die prinse en regeringstelsels verloor dat hulle heeltemal onttrek. Of as laaste uitweg kwaainarre, soos Donald Trump, verkies om hul woede daagliks te verwoord as finale wraak teen die stelsel.

Of net heeltemal handdoek ingooi. Soos diegene wat al Afrikaans se sterfdatum wil bepaal bloot oor die konstitusionele hof se uitspraak oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid. ’n Soort gemakstoelgeslag van hopeloosheid, in direkte teenstelling met die vorige eeuse taalstryder Izak van Heerden, wat in 1905 geskryf het: “Ons gaan ’n taal maak.”

Ons kort inspirerende voorvatters wat juis in die konteks van huidige moeilike tye kan nuwe rigting gee. Dit is juis in nog moeiliker tye wat dit gebeur het.

Ouens soos Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof wat vanuit die pos wat niemand sekerlik sal wil hê nie, verklaar hy sien tog ’n ligflikkering in die tonnel.

En sy benadering in ’n onderhoud – wat gister in Beeld verskyn het en steeds op Netwerk24 is – is om die probleme pynlik en eerlik uit te spel en eenvoudig van ’n kant af in te spring. Dit is maar al alternatief wat daar vir elkeen is. Op enige terrein. Die enigste ander uitweg is die mooi maar onheilspellende Afrikaanse woord wat ons weer vandeesweek meermale gehoor het: die kantelpunt.

So bykans ongesiens verskyn daar vandeesweek ’n artikel op ’n forum van die Kanadese dinksentrum Institute for Research on Public Policy met die opskrif “The Rise of Africa and Cyril Ramaphosa, in case you missed it”.

Ja, wil ’n mens amper antwoord, hier in Suid-Afrika mis ons maklik enige vordering wat wie ook al maak. Ons wil al amper. Ons is immuun teen enige goeie nuus. Ramaphosa en Tito Mboweni is immers ook prinse.

Feit is, ons gaan moet planne maak en werk met wat ons het.

Soos Rassie Erasmus met Faf de Klerk en sy lugskoppe.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Da  |  Standpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.