Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As polisie ’n monopolie op oorywerigheid het

Toe die Switserse dorpie Sissach in Maart sy jaarlikse karnaval gehou het, is hope speelgoedgeld as deel van die feesoptog in die strate gestrooi.

Heinz Mödler
Heinz Mödler

Vir die kinders was dit groot pret, want skielik het elke kind hande vol “geld” gehad waarmee hulle kon koop net wat hul hart begeer.

Dié “geldnote” was selfs meer “speelgoed” as Monopoly-geld, want dit was Chinese “joss paper” of “spirit money”, wat simbolies by begrafnisse verbrand word.

Twee Switserse boeties van die naburige dorpie Dietgen het gewonder of hulle hul nuutgevonde “fortuin” kan gebruik om lekkers en speelgoed mee te koop.

In die winkel om die hoek vra hulle die verkoopsdame of hulle die geld kan gebruik om iets te koop. Nee, sê sy, want dit is speelgoedgeld. Hulle aanvaar hul lot en keer koponderstebo huiswaarts.

’n Paar dae later klop die polisie aan die deur. Hulle het inligting ontvang dat kinders in dié huis met vervalste geld aankope maak.

Tot die ouers se verbasing hoor hulle dat die verkoopsdame die polisie van die voorval in kennis gestel het. Haar klagte het die blitspatrollie gemobiliseer.

Die sirenes het geloei en die straat is waarskynlik met linte afgesper totdat die misdadigers vasgetrek is.

Die polisie het die gesin vir drie uur besig gehou. Hulle het nadat al die verklarings en vingerafdrukke geneem is, die huis verder deurgesoek en ongelooflik genoeg op nog vervalste note afgekom.

Elke noot is as ’n bewysstuk met ’n pinset in ’n sakkie geplaas, genommer, gedokumenteer en gefotografeer.

Van albei die boeties is ook polisiefoto’s geneem – ’n vooraansig met ’n identifikasiebordjie wat om die nek hang, asook twee syaansigte.

Van albei die boeties is ook polisiefoto’s geneem – ’n vooraansig met ’n identifikasiebordjie wat om die nek hang, asook twee syaansigte.

Terug by die polisiekantoor is die saak verder gevoer. Die polisie het die videomateriaal wat die winkel aan hulle verskaf het, gefynkam vir verdere leidrade.

In die video kan duidelik gesien word hoe die twee boeties die winkel binnestap en aan die verkoopsdame iets vra.

Een van die boeties haal dan ’n noot uit sy sak en wys dit aan haar. Sy skud haar kop en hulle druipstert weer die winkel uit. Toe tel die verkoopsdame die telefoon op . . .

Hierdie ernstige misdaad moet op die hoogste vlak hanteer word. Die polisie durf nie foute maak wanneer hulle hof toe gaan nie. Ongelukkig vir die polisie is dit op die videomateriaal baie duidelik dat die boetie wat die noot in sy hand het, die jonger een is. Hy is agt jaar oud.

Gode sy dank dit was nie die ander boetie nie. Verdagte nr. 2 is tien jaar oud, en volgens die Switserse reg kan en sal ’n persoon van tien jaar en ouer met die volle wetboek te doen kry indien hy of sy vervalste geld verkwansel. Vir hóm sou die beste advokate maar net hul kop kon geskud het.

En hoewel hierdie ernstige oortreding weens ’n tegniese skuiwergat ’n gelukkige einde gehad het, sal albei boeties in die toekoms baie versigtig moet trap.

Tot 2032 bly hul foto’s op rekord en enige oortreding, al is dit hoe gering, sal ernstige gevolge hê.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Tweeling  |  Polisie  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.