Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As siel van die allergewoonste helder skitter

Verlede week het ek ’n vir tweede keer Helen Martins se Uilhuis-museum op Nieu-Bethesda besoek.

En, soos met die eerste keer, het die trane spontaan gekom, oorrompel deur die tuinbeelde van diere en mense wat saam na die Ooste uitreik; standbeelde in beweging na die Lig – vir my ’n kragtige metafoor van ’n Hoër Orde wat jou onweerstaanbaar aantrek.

Juis omdat Martins haar van die destydse verstikkende Christelike gemeenskap se vooroordeel afgesonder en toegewy het aan “haar Mekka”, het baie mense haar beelde verstaan as ’n uitdagende vereenselwiging met die Islamitiese geloof. Die eintlike waarheid, soos die dramaturg Athol Fugard dit toon in sy The Road to Mecca, is dat die Uilhuis eerder ’n feesviering van Martins se vryheidsdrif is – as vrou, bevry van patriargale bagasie, én vry om na eie keuse en universeel spiritueel te wees.

Vandag nog is “spiritualiteit”, soos Martins dit verstaan het, ’n nagmerrie vir sommige godsdienstige mense.

Enersyds omdat hulle dit verwar met spiritisme, en andersyds omdat hulle reken spiritualiteit is “duiwels” of “heidens”. Baie mense se keuse van spiritualiteit het te doen met hul belewenis van verstarring in godsdienstigheid. Hulle beleef dit as kerklike “muggiesiftery” wat jou goed en soet moet hou, maar dit vervul hulle nie met ’n diep lewensblydskap nie. Wat hulle ten diepste begeer, is ’n bietjie meer mistiek en verwondering en minder voorsê-geloof.

Die ironie is dat spiritualiteit of mistiek, soos Martins dit beoefen het, ’n ou tradisie in die Christendom is.

Die ironie is dat spiritualiteit of mistiek, soos Martins dit beoefen het, ’n ou tradisie in die Christendom is. Bekende kerkfigure soos Thomas Aquinas, Franciskus van Assisi en Meister Eckhart is voorbeelde van mistici. Jesus self was ’n mistikus, soos dit onder meer blyk uit die omstrede “evangelie” van Thomas wat nie deur die kerk erken word nie.

Een rede waarom die mistieke tradisie getaan het, was dat die vroeë georganiseerde kerk gereken het sekere mistiese praktyke tas die “goeie orde” en “kerkregtelikheid” aan en dat die eie spirituele ervaring belangriker kan word as die onderskrywing van kerklike leerstellings. Dieselfde houding geld vandag nog.

Die herontwaking van mistiek is egter onstuitbaar. Die Katolieke teoloog Karl Rahner se siening oor die toekoms van die Christendom is klinkklaar: óf die mistiek óf niks.

Hedendaags preek al hoe meer predikante van ’n teologie van verwondering en ontvouende misterie wat spirituele herontwaking voed in dié sin dat dit mense bewus maak van ’n onverkende en ongeleefde “kern” van hul mensheid.

Daarom praat mense wat iets van dié “kern” ervaar dikwels van buitengewone belewenisse: verligting, heling, blydskap, oorgawe aan liefde en deernis en ’n ervaring van eenheid met alles en ’n omhelsing van die ganse kosmos.

Wat dan gebeur, is dat die siel van die allergewoonste dinge helder skitter. Juis dít is die siel van Helen Martins se blywende skittering.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Geestelikheid  |  Godsdiens  |  Geloof  |  Siel  |  Gees  |  Spiritualiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.