Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: As skreeuers debat oorheers

Die waghonde van ons oop gemeenskap, die media, het jare lank die vyande van openheid en verdraagsaamheid, die EFF, met ruim publisiteit bygestaan en aangehelp. Dit lyk asof hulle nou wakker skrik, maar het hulle die durf om te doen wat gedoen moet word?

Max du Preez

Die media in Suid-Afrika moet begin besef dat ons ook die era van postwaarheid en alternatiewe feite betree het en dat dit primêr die media se taak is om dié verskynsels teë te gaan.

Sê agter my aan, kollegas: Feite maak saak! Moenie dat die EFF met moord wegkom nie.

Ek voel al lank soos ’n plaat wat vasgehaak het oor die media se hantering van die EFF en ander mense en groepe (van links en regs) wat bitter min bewysbare steun het, maar hul hatigheid en onverdraagsaamheid (en blatante leuens) so hard uitskreeu dat hulle toegelaat word om die nasionale diskoers te oorheers.

As ons as joernaliste toelaat dat skreeuers en haters die debat oorheers net omdat hulle skreeu en haat, dan doen ons die publiek ’n onguns en help ons om die openbare mening te verwring.

Hier is hoe ek die EFF in 2018 sien. Dit is ’n gewelddadige, rassistiese, populistiese, ondemokratiese, militaristiese, proto-fascistiese party.

Joernaliste is nie stenograwe nie. Ons is die lesers/luisteraars se oë en ore op die grond. Ons moet daagliks oordeel vel oor waaraan ons aandag behoort te gee en wat nie en oor watter prominensie ons aan wie en wat moet gee, want ons kan onmoontlik nie alles en almal in dieselfde besonderhede dek nie.

Ons moet dit met balans en regverdigheid doen en die publiek moet ons daaroor eerlik hou.

Die media (verskoon die growwe veralgemening in die belang van bondigheid) het lank die EFF op die voorblaaie en nuusbulletins geplaas net omdat hulle so vloek en dreig en omstrede is.

Julius Malema het die media soos ’n orrel gespeel en te veel van ons het soos apies op en af gespring en op sy deuntjie gedans. Dit was deels omdat joernaliste vermaak met substansie verwar het en deels omdat hulle bang was. Bang om dalk as rassiste uitgeskel te word en bang vir Malema en kie se dreigemente en intimidasie.

Hoe ironies dat die politici wat die media tot vyand verklaar en joernaliste met geweld dreig (en soms fisiek aanval) media-darlings geword het.

Ons was almal op ons perdjies oor Bell Pottinger se propaganda-aanslag in die Zuma-Gupta-era. Die EFF se propagandaveldtog is Bell Pottinger op ste­roïede, maar nou is ons perdjies skielik lam. Enige joernalis wat krities oor die EFF skryf, word nou as ’n “Stratcom-agent” uitgekryt. Dit gebeur weekliks met my.

Hier is hoe ek die EFF in 2018 sien. Dit is ’n gewelddadige, rassistiese, populistiese, ondemokratiese, militaristiese, proto-fascistiese party en sy leiers is waarskynlik so korrup soos die ergstes uit die Zuma-kamp.

Net in die laaste paar weke het die EFF-leiers blatanter leuens verkondig as Jacob Zuma in nege jaar. Pravin Gordhan, die politikus wat meer as enig­iemand anders gedoen het om die Guptas se staatskaping te stuit, word byvoorbeeld nou as die voorste handperd van Gupta-staatskaping uitgebeeld. Die EFF is nou ’n aktiewe deel van die Zuma-faksie se terugvegpoging.

As radiostasies en TV-kanale enige integriteit het, sal hulle nooit weer ’n EFF-mediakonferensie of -vergadering regstreeks uitsaai nie. Die waarheid al dan nie van hul stellings sal eers nagegaan en indien nodig gekorrigeer moet word voordat dit uitgesaai word.

Alle media sal daagliks moet besin of ’n EFF-uitlating of gebeurtenis werklik nuus en nie ’n manipulering van die media is nie.

Joernaliste verraai hul eie beroep as hulle die vyande van ’n oop gemeenskap ekstra suurstof gee.

  • Du Preez is ’n joernalis, skrywer en politieke ontleder.
Meer oor:  Eff  |  Media  |  Waghonde  |  Joernaliste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.