Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
As voorstander van inenting is ek nou omstrede
Prof. Hennie van Coller van Bloemfontein Foto: Verskaf

As ’n uitgesproke voorstander van inenting teen Covid-19 is ek skynbaar omstrede, want ek kry dikwels kwaai briewe wat my beskuldig van heuling met volksvreemdes; betrokkenheid by ’n komplot van Beëlsebul en selfs van korrupsie.

Volgens A. op E. kry ek kommissie van die maatskappy wat Pfizer versprei en H. op G. noem my ’n agterryer van die regering wat glo bakhand staan. Skynbaar vir ’n Umkhonto we Sizwe-eerbewys (brons) vir volksdiens.

Gedagtig aan mense wat al geteer en geveer is vir veel minder, maak ek nou net my verskyning in die openbaar met ’n masker wat na ’n burka lyk en met ’n mus wat ver oor my ore getrek is. Herkenbaar is ek dus nie, maar dit vrywaar my ongelukkig nie van wantrouerige veiligheidswagte nie. Bedag op ’n gewapende rooftog, word ek deesdae deur elke supermark vergesel en naby banktellers kom ek nooit nie.

’n Baie erger gevolg van my standpunt oor inenting is dat ek nou ’n gereelde ontvanger is van e-posse oor die gevare van inenting. Dat vroue se borste vergroot ná die tweede inenting is na my beskeie gevoel nie noodwendig ’n negatiewe gevolg nie en behoort individueel beoordeel te word.

Die jongste gerugte is dat die inenting ’n ophoop van yster en grafiet in jou liggaam veroorsaak. Dit sou die gevolg hê dat selfoonseine opgevang word wat weer alle nare siektes tot gevolg sou hê. Persoonlik vind ek dit ’n voordeel. Dalk het ek een van die dae nie meer ’n selfoon nodig nie en stuur ek sommer boodskappe deur in my vuis te fluister.

Jou DNS gaan verander van die inenting, lui een e-pos, en voor jy weet, raak jou chromosome so opgefoeter dat jy van geslag verander of dat jy straks terugmuteer na jou aapagtige voorouer.

’n Ophoping van grafiet weer, het die onmiskenbare voordeel dat jy dalkies nie meer ’n potlood nodig het nie en sommer eersdaags met jou voorvinger sal kan skryf. En watter man sê nee vir gratis lood vir jou potlood?

Jou DNS gaan verander van die inenting, lui een e-pos, en voor jy weet, raak jou chromosome so opgefoeter dat jy van geslag verander of dat jy straks terugmuteer na jou aapagtige voorouer.

Nóg een beweer dat jy ongetoetste radioaktiewe gif in jou liggaam pomp. Die laasgenoemde lyk vir my ook voordelig, want sou daar weer ’n Tsjernobil-ramp plaasvind, het ingeëntes geen Geiger-teller nodig nie.

Aan samesweringsteorieë het ek ’n broertjie dood omdat dit selde een greintjie waarheid bevat. Maar ongelukkig versprei dit vinniger as veldbrande en maak veral liggelowiges onseker en wantrouig.

Hulle wat geneig is om maklik op sleeptou geneem te word en gou hul geld inpomp in rykwordskemas soos vrotmelk-kulture.

Wantroue weer, skep vrees en aggressie. Vervolgens word gesoek na ’n sondebok. Met die uitbreking van pes in die Middeleeue is Jode byvoorbeeld geteiken omdat hulle glo die putte sou vergiftig het.

Ek gun elkeen die reg om sy of haar eie besluite te neem. Maar dan gebaseer op gesonde verstand en korrekte inligting.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Inentingsprogram  |  Pandemie  |  Inentings  |  Inspuit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.