Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Baanbreker, mentor – en ‘verhoudingsmens’

Die kommentare op Facebook ná ’n plasing oor die viering van dr. Franklin Sonn se 80ste verjaardag verlede maand betreur byna in gelid die ylende teenwoordigheid van “leiers soos hy”. Dis kompleet asof hulle die bekende Bob Dylan-lirieke wil aanpas na: Where have all the leaders gone? skryf Heindrich Wyngaard.

Dr. Franklin Sonn in 2017 in sy huis in Welgemoed.Foto: Lerato Maduna

Hierdie refrein is ook hoorbaar uit vriende, oudkollegas, sakevennote en familielede se huldigingsboodskappe ter viering van die oudonderwysman, struggle- en sakeleier en oudambassadeur se agt dekades op aarde.

Dit herinner aan die opmerking deur G.H. Lewes in sy biografie The Life and Works of Goethe dat “in all ages the biographies of great men have been fruitful in lessons”.

So, wat is dan die lesse of sleutelbeginsels oor leierskap wat Sonn se styl verteenwoordig?

1. Verhoudingsmens

Leierskap word hier in die sin van oudpres. Nelson Mandela se styl beoordeel, dit wil sê leiers wat samehorigheid bevorder en wat met respek en deernis na alle rolspelers, ongeag velkleur, taalvoorkeur of politieke affiliasie, luister.

“Een van Franklin Sonn se grootste bydraes tot die afbreek van die apartheid-Suid-Afrika, en tot die bou van die demokratiese Suid-Afrika, is sy ferm soeke na ’n spesifieke vorm van geregtigheid,” sê prof. Nico Koopman, viserektor: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. “Geregtigheid wat mense nie vervreem nie, maar vriende van mekaar maak oor alle grense heen (versoenende geregtigheid).”

Maar hulle word nie meer so gemaak nie. Dit was die leiers van ’n tyd wat nie meer is nie.

Sonn se leierskap word deur prof. Johan Tromp, ’n voormalige viserektor van die ou Technikon Skiereiland (Pentech), waar Sonn vanaf 1977 tot 1994 rektor was, bestempel as ’n bestuurstyl wat op verhoudings gegrond was.

Dit is ’n styl wat verhoudings met studente en personeel net so belangrik geag het as dié met onderwys- en polisie-owerhede, asook regeringsleiers – selfs gedurende wat dr. Leon Wessels die “hoogspanningsdae” van die 1980’s noem.

Oor laasgenoemde sou jy opsluit ongewildheid oor jou bring – gesprekke met die politieke vyand was ’n doodsonde vir sommige teenapartheidstryders aan die meer linkse, meer ekstreme kant van die spektrum, wat ’n “politiek van weiering” beoefen het, in prof. Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria se beskrywing.

Franklin is een van daardie seldsame mense – hy is toeganklik.

Ten spyte daarvan dat Sonn dikwels in die spervuur was, onthou dr. Danny Titus van die DAK-netwerk, “het hy onverpoosd voortgegaan om die KPO (die Kaaplandse Professionele Onderwysersunie) te bou”; en het hy “sy karakter gevestig om te midde van kritiek duidelike leierskap te toon”.

“En alewig tussenganger, boodskapper en raadgewer,” aldus die joernalis Max du Preez.

Hiervoor sou hy ná apartheid beloon word – onder meer, sê Titus, deur Mandela se “man in Washington” te word, Suid-Afrika se eerste nuwebedeling-ambassadeur in Amerika.

2. Toeganklikheid

Dit is ’n rol wat hy seer sekerlik nie met sukses sou kon vertolk as hy nie ook toeganklik was nie.

“Franklin is een van daardie seldsame mense – hy is toeganklik,” sê sy vriend Ton Vosloo, oudvoorsitter van Naspers.

“En om hom het hy goed toegeruste mense met insig – maar geen ja-broers en -susters nie – versamel. Dis myns insiens die eienskap van ’n gebalanseerde mens wat energie put uit sy ingebore selfvertroue.”

3. Selfvertroue

Maar selfvertroue mag nie met arrogansie verwar word nie. Dit sou in elk geval nie deug in sy rol as “voorste vredemakelaar”, soos wat die filosoof prof. Willie Esterhuyse na Sonn verwys nie. Sonn sou midde-in die “kantelpunttyd” van die 1976-opstande ’n uitdaging aan Esterhuyse stel: “Wat kan ek en jy doen om vredesgesprekke aan die gang te kry? Ons kan tog nie baklei totdat almal dood is nie.”

Maar ewe so gee leiers erkenning aan ander wat in húl lewe ’n mentor- of ondersteuningsrol gespeel het.

Sonn sou egter nie terugdeins wanneer hy en medestryders, onder wie prof. Jakes Gerwel, hul lyf namens studente en personeel op die spel moes plaas in die aangesig van rubberkoeëls of polisieknuppels nie, sê Ran­dall van den Heever, wat jare saam met Sonn in die KPO gewerk het.

4. Mentorskap

Sowel Sonn se enigste seun, Crispin, as bekendes uit onderwyskringe beaam sy rol as mentor.

Dit sluit in prof. Brian O’Connell, voormalige rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland, en Danie van Wyk, oud-KPO-man en deesdae van Fedsas se SA Onderwysontwikkelingstrust (SAOOT).

Sonn se mentorsrol word vandag nog voortgesit – selfs onder diegene wat ook reeds afgetree is. Van den Heever som dit op: “Onder sy onderwyskamerade – ekself en ander soos Archie Vergotine en dr. David Piedt – is hy ’n vriend, mentor en ’n held; ook die pittigste grapjas.”

’n Vername Pentech-produk, oudmin. Trevor Manuel, deesdae onder meer voorsitter van Old Mutual, sal ook kan getuig van Sonn se “vaderlike” rol in sy eie lewe.

Maar ewe so gee leiers erkenning aan ander wat in húl lewe ’n mentor- of ondersteuningsrol gespeel het.

In Sonn se geval is dit hoofsaaklik sy pa, Pat, ’n man en leier vir wie hy hom “nooit hoef te geskaam het nie”; en veral ook sy “modelvrou”, Joan: “Ons almal weet,” sê Vosloo, “Joan is die blink diamant in wie se glans Franklin kon floreer.”

5. Baanbreker

Naas Sonn se baanbrekersrolle as onderwysman en ambassadeur, was hy ook op sakegebied dikwels “die eerste een”: as medestigter van NAIL, een van Suid-Afrika se eerste swart genoteerde maatskappye; en ook as eerste bruin president van wat voorheen as die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) bekend was.

Heindrich Wyngaard

Maar hoeveel mense weet dat die joernalistiekdepartement by Pentech gedurende Sonn se termyn tot stand gekom het? Terwyl die instelling (nou bekend as die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie) kan spog met sakeleiers soos Manuel en Edward Kieswetter, hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, beklee oud-Pentech-joernalistiekstudente ook prominente rolle in omtrent alle mediaorganisasies in die land.

Nie net is hulle betrokke by nuusbestuur nie, maar ook by die bepaling van die nasionale agenda of diskoers. Om enkeles te noem: Lynette Francis (nuusleser en aanbieder van Fokus op SABC2 en Praat Saam op RSG), Johann Maarman (eindredakteur by Die Burger), Theresa Olivier (adjunkredakteur by Netwerk24), Nicolene de Wee (redakteur by Monitor en Spektrum op RSG), en ook die skrywer van hierdie artikel.

  • Wyngaard is onder meer ’n aanbieder van kykNET Verslag en ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.