Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Babaolie op rugbyveld net die ding

Die moeite wat rugbyspanne doen ter wille van Wêreldbeker-glorie klink soms soos die lees van fopnuus, skryf MC Botha.

Warren Gatland, Wallis se afrigter, hou ’n ogie oor ’n oefening voor Woensdag se wedstryd teen Fidji. Foto: AP

Wallis se spelers het vir hul eerste wedstryd teen Georgië met rugbyballe geoefen wat deeglik met babaolie ingesmeer is om nat toestande na te boots.

Hulle hoef egter nie tot so ’n drastiese stap oor te gegaan het nie, want die dreigende tifoon wat voorspel is, het die gasheer-eiland Japan die een of ander kant om gemis. Georgië is vooraf ’n kans van 1 000-1 gegun om die beker omhoog te hou, en word in elk geval beskou as ’n span wat in die groepfase reeds by wyse van spreke loshande geklop behoort te word.

Net soos Japan in die vorige toernooi, en toe klop hulle die Springbokke.

Anders as die Bokke destyds het die Rooi Drake egter nie kanse gewaag nie. Voordat Warren Gatland, afrigter, na die babaolie uitgereik het, het hy die oefenballe in emmers water gedoop – dié nat balle blyk toe nie seepglad genoeg te wees nie.

Is Japan nie maar ’n platterige eiland met slegs ’n enkele vuurspuwende berg genaamd Fuji nie?

Hy kon natuurlik ook ’n ander bekende smeermiddel soos Vaseline gebruik het, of selfs Vicks Vaporub wat nogal handig te pas sou kom as ’n speler aamborstig begin raak het in sy pogings om die onvasvatbare vas te vat.

Selfs nog voor hulle in Japan aangedoen het, het Gatland daarvoor gesorg dat sy spelers op elke moontlike toestand voorbereid is. Hiervoor is hulle na ’n halfwoestyn in Turkye waar die temperatuur opskiet tot 40 °C, net ingeval ’n hittegolf Japan tref, en daarna is hulle na Switserland – nie agter sneeu aan nie, maar die hoogte bo seevlak.

Was dit regtig nodig?

Is Japan nie maar ’n platterige eiland met slegs ’n enkele vuurspuwende berg genaamd Fuji nie?

Die Wallabies of Aussies weer het gedink dis beter om so ver moontlik weg van alles en almal voor te berei en vanaf Sydney 2 000 km see-in gevlieg na die eiland Nieu-Kaledonië.

Helaas, hulle moes liewer ook babaolie op die proef gestel het, want Wallis klop hulle toe met 29-25.

MC Botha

Aan die ander kant was al die Aussies – afrigters, kondisioneringsbeamptes, bestuurders, bystandspersoneellede, noodhulpfunksionarisse en wedstrydontleders inkluis – daarvan oortuig dat hulle maar net verloor het vanweë vrot skeidsregterbeslissings op kritieke tye.

Synde die houers van die Wêreldbeker het die Kiwi’s ook behoorlik oorgehaal opgedaag. In hul laaste opwarmwedstryd teen Tonga het hul uitgeslape afrigter, Steve Hansen, gedoen wat nog nooit voorheen gedoen is nie: hy het gelas dat een van die 15 spelers in die span die veld verlaat, om uit te vind hoe moeilik dit is om jou teenstanders met slegs 14 man kaf te draf.

Maar hoekom het hy nie sommer twee of drie spelers die veld laat verlaat nie? Want die All Blacks het steeds met 97-7 gewen – beter as wat die Bokke Dinsdag op vol sterkte teen Kanada kon regkry.

Baie leunstoelkritici reken dis onsportief om doelbewus met ’n verswakte span te speel, net soos die tennisspeler Nick Kyrgios verkwalik word wanneer hy tydens ’n wedstryd in ’n onverklaarbare woedebui sy raket stukkend slaan voordat hy briesend van die baan af storm.

Hy behoort rugby in Suid-Afrika te begin speel om agter te kom wat met jou gebeur as jy kop verloor, op die veld of van die veld af.

Vra maar vir Eben Etzebeth.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het voorheen in Engels in die Hermanus Times verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Wêreldbeker-Toernooi  |  Nick Kyrgios  |  Mc Botha  |  Warren Gatland  |  Eben Etzebeth  |  Wallis  |  Japan  |  Nieu-Seeland  |  Australië  |  Georgië  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.