Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Baie meer as net ’n lekker jol

Dit is weer tyd vir die Klopsekarnaval; wanneer Kapenaars maar veral die nasate van die eertydse slawe feesvier. Volgens Michael le Cordeur is dit lankal nie meer net ’n jollie-affêre nie.

Jermaine Davids (voor links) en sy broer Ulrico (regs) saam met Wesley April (middel) en die Superstars. Foto: Michael Le Cordeur

Tweede Nuwejaar. Dit is Klopsekarnaval. Die woord “klopse” is afgelei van die Nederlandse woord “klubs”. Tradisioneel is dit al meer as ’n eeu een van die hoogtepunte op die Moederstad se kultuurkalender. Dan word Kaapstad se strate in ’n skouspel omgetower wat net by uitsondering elders in die wêreld te sien is.

Ek het die afgelope paar jaar gereeld oor die klopsekultuur geskryf en teen dié tyd ken almal die volgende narratief: Een dag van die jaar het die slawe ’n afdag gehad – Tweede Nuwejaar. Dan kon hulle ’n bietjie ontspan en partytjie hou. Met die vrystelling van die slawe op 1 Desember 1834 het die partytjie ontpop in ’n fees. Met verloop van tyd is die joligheid gekombineer met Nuwejaar wat tot die karnaval gelei het. Dit is vakansietyd in die Kaap. Die feesvieringe vind in die strate plaas en gaan gepaard met vrolike musiek, sang en dans.

Tog is daar steeds wanopvattings en misverstande oor presies waarvoor die klopse staan.

Ek vind dit ontstellend dat sekere mense steeds neerkyk op die klopse as iets wat benede hul waardigheid is. Dit terwyl ek bewus is dat die klopse lankal baie meer is as net ’n lekker Kaapse jol.

Jeugontwikkeling

Ek het gaan aanklop by Jermaine Davids, voorsitter van die Superstars-jeugontwikkeling-klopsegroep van Wellington om vas te stel wat hierdie jeugontwikkeling behels. Ek is beïndruk as ek voor Jermaine se praghuis stilhou. Alles dra die teken van ’n jongman met ’n goeie kop op sy skouers. Die sypaadjies is netjies geplavei en versier met potplante. Die huis is smaakvol gemeubileer. Jermaine is selfversekerd dog vriendelik en bied koeldrank aan.

Superstars is in 2005 gestig deur Jermaine en sy broers Ulrico en Hyron, sy ooms Marco en Biga Hera asook Shafiek Mouton, Brendon April, Claude Marinus en Eugene Minnaar. Nog twee stigterslede, Chantal Meje (’n onderwyseres) en my lewenslange vriend Christy Abrahams (beter bekend as Medal), is onlangs dood.

Vir die afgelope 15 jaar staan die twee professionele jongmanne aan die hoof van hierdie suksesvolle klopsegroep. As die seuns van die skoolhoof van die plaaslike hoërskool, wou Jermaine en Ulrico die mite dat die klopse net bestaan uit mense van die laer ekonomiese klas met obskure gewoontes, die nek omdraai.

Maar waarom nog ’n klopsegroep stig as Wellington reeds 14 troepe het, vra ek.

’n Lid van die Superstars wys sy slag. Foto: Verskaf

Opvoedingstaak

Jermaine is beslis in sy antwoord: “Baie mense kyk neer op die klopse. Maar hulle weet nie wat regtig aangaan nie,” sê hy.

“Omdat ek en my broer albei professionele mense is, wou ons ’n stukkie van die professionalisme na die klopse bring. As ons eerlik met onsself is, moet ons erken baie klopsegroepe het gestagneer sonder om iets van waarde aan sy lede te bied. Ons fokus was die jeug; daarom is so baie onderwysers betrokke by Superstars. Ons is besig met ’n opvoedingstaak, en wil ’n waardesisteem aan die jeug oordra.”

Vandag bestaan die klub uit ongeveer 200 lede waarvan 187 op Nuwejaar ’n uniform gaan aantrek om aan die jaarlikse klopsekompetisie in die Boland-stadion te gaan deelneem.

“Ons lede strek van so jong as een jaar (ja, letterlik ’n baba) tot 65 jaar en bestaan uit ewe veel mans en vroue, seuns en meisies. In baie gevalle behoort die hele gesin, ma, pa en kinders, aan die Superstars. Dit maak ons klub one big happy family. Gesinswaardes is belangrik vir ons.”

En vanwaar die naam Superstars?

“Ons visie is om sterre, rolmodelle en leiers in die gemeenskap te ontwikkel. Ons primêre doel is om geleenthede te skep vir die jeug. Elkeen moet weet dat hy of sy in staat is om ’n superster te word, as hulle bereid is om hard te werk.

“Een van ons meisies het onlangs haar musiekgraad verwerf aan Stellenbosch. Elkeen is daartoe in staat. Ons slagspreuk is nie verniet ‘The night comes alive when the stars come out’ nie,” verduidelik Jermaine met passie in sy stem.

’n Onderneming

Superstars word bestuur soos ’n sakeonderneming. Die Davids-broers is albei gekwalifiseer in die handelswese. Ulrico is ’n ekonoom wat in Johannesburg werk, maar kom gereeld kuier om na die sake van Superstars om te sien. Daarbenewens is hy en Jermaine ook die mede-eienaars van twee houtverwerkingsfabrieke wat werk verskaf aan 60 mense in Wellington.

Afgesien van Jermaine, wat die voorsitter van die groep is, is Ulrico die klub se uitvoerende hoof. Op die volgende vlak is verskeie kapteins, meestal onderwysers en polisiemanne. Elkeen hou toesig oor ’n ouderdomsgroep. Dit is hulle taak om dissipline te handhaaf as die groep in die strate marsjeer, of aan kompetisies deelneem.

Om ’n groep so groot soos Superstars te bedryf, kos baie geld. Volgens Jermaine is die groep se jaarlikse begroting meer as R300 000. Dit kos R350 om ’n kind in ’n uniform uit te rus. In die geval van ’n volwassene is dit R450. Voeg daarby die musiekinstrumente en jy begin besef dat dit ’n duur stokperdjie is.

“Gelukkig voer ons die materiaal asook die hoede en sambrele in en gebruik van ons eie kleremaaksters; anders was dit nog duurder,“ sê Jermaine.

Werkskepping

Auntie Christina Lewis bedryf ’n fabriek waar sy en haar span naaldwerksters heeltyds moet werk om die uitrustings betyds klaar te kry. Auntie Stina het onlangs ’n beroerte gehad. Die ander persoon wat klopseklere gemaak het, auntie Mac Williams, is dood. Gelukkig het auntie Mac se seuns hul ma se tradisie voortgesit.

Die musiekinstrumente is baie duur. Die klub hou gereeld kosverkopings en klublede moet kaartjies verkoop.

Jermaine verduidelik dat sulke aande tot R12 000 kan inbring. Maar nadat onkoste afgetrek is, laat dit hulle met net genoeg geld om een trompet aan te koop. Dan praat ons nie eens van ’n kitaar, banjo, ghoema en tromme nie.

“Dit help met spanbou en kinders leer van kleins af jy moet werk as jy iets begeer, maar dit alleen sal nie die groep aan die gang hou nie. Jy benodig ook skenkings en borge. Ons is gelukkig dat Ulrico met sy kontakte in die finansiële wêreld heelwat borge kon werf. Daarsonder sou ons dit nie maak nie.”

Musiekopleiding

In die ou dae en by die ouer groepe het kinders by hul ouers en ooms geleer om musiekinstrumente te bespeel. Maar niemand kon juis musiek lees of skryf nie. Omdat elke groep deesdae ’n nuwe liedjie of moppie moet skryf, moes Superstars vir sy lede musiekopleiding gee. Kyle Fortuin, ’n jong musiekdosent aan die Frank Pietersen-musiekskool in die Paarl, is aangestel. ’n Bussie is aangeskaf om kinders na musiekklasse te vervoer. Reg deur die jaar word hulle opgelei.

Die nuwe orkes vaar so goed dat hulle in groot aanvraag is by die Kaapse Klopse vir wie hulle dikwels teen vergoeding sal speel. Hulle gaan juis Saterdag 4 Januarie in die Kaapse Klopsekarnaval optree.

Maar dit stop nie daar nie. Superstars word gereeld genooi om aan musiekfeeste hier en oorsee deel te neem. Hulle tree gereeld op by die Taalmonument en was al in Skotland, Engeland, Indonesië en Bali. In Maart was hulle in Brasilië waar hulle aan die Rio-karnaval deelgeneem het. Vanjaar besoek hulle Maleisië. Dit beteken dat die klub baie hard moet werk, maar sy lede wat meestal uit ’n benadeelde agtergrond kom, reis die wêreld vol.

Wat hou die toekoms in?

“Ons sal vir seker volgende jaar met ons 15de verjaarsdag ons eie boek uitbring. En ons eie CD. Dit is hoog op ons agenda.”

Michael le Cordeur

Laurika Rauch

In Augustus verlede jaar het die Superstars Laurika Rauch se “Stille waters” gesing, dit opgeneem en op YouTube gelaai. Sy het daarop afgekom en was so beïndruk dat sy hulle gevra het om saam met haar in Durbanville op te tree. Sy het selfs saam met hulle kom oefen.

“Vir een aand het Superstars die kalklig gedeel saam met een van Suid-Afrika se grootste supersterre!”

“Vir die eerste keer het die jong lede besef dat hulle ook ’n superster kan word. Dit is waarvoor Superstars staan. En waarna ons streef.”

  • Prof. Le Cordeur is die medeskrywer van die boek Die Wellingtonse Klopse. Sy jongste boek Halala Suid-Afrika is pas uitgereik. Hy is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Aktueel  |  Jeug  |  Opheffing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.