SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Baie myle lê tussen doen en sê, mnr. Manana
Philda Essop

Oor ’n week vier Suid-Afrika Vrouedag te midde van geweld teen vroue en kinders wat toenemend ’n alledaagse verskynsel in ons samelewing word.

Een ding wat egter dié Vrouedag baie rede vir blydskap bied, is die bedanking van Mduduzi Manana as ANC-LP.

Die tydsberekening van sy bedanking verlede Woensdag was vreemd omdat dié voormalige adjunkminister van hoër onderwys en opleiding verlede jaar al in die hof skuldig bevind is aan die aanranding van drie vroue in ’n Johannesburgse nagklub. Hy is onder meer ’n boete van R100 000 opgelê en het as adjunk­minister bedank, maar as ANC-LP aangebly.

Die stof het egter nog skaars rondom dié episode gaan lê toe dit in Mei vanjaar aan die lig gekom het dat Manana sy huishulp glo by trappe afgestamp het.

Dit is duidelik Manana het bedank om ’n interne parlementêre tugkomitee vry te spring waar hy sy gedrag sou moes verduidelik.

Die nasionale vervolgingsgesag het verlede week besluit om hom nie hiervoor te vervolg nie omdat daar glo “geen redelike vooruitsig op ’n suksesvolle vervolging” is nie.

Dit is duidelik Manana het bedank om ’n interne parlementêre tugkomitee vry te spring waar hy sy gedrag sou moes verduidelik.

LP’s wat op die parlementêre komitee oor etiek en ledebelange dien, het verlede week spesiaal van elders in die land na Kaapstad gevlieg om dié tugverhoor te hanteer, maar kon nie daarmee voortgaan nie omdat Manana ’n dag voor die aanvang van die verhoor bedank het.

Tog is Manana ondanks sy skuldigbevinding in Desember, by Nasrec tot die nasionale uitvoerende komitee van die ANC verkies.

Dit blyk egter hy is nie oral onder ANC-

Dit kom voor asof hy bloot bedank het om verdere optrede vry te spring

­lede gewild nie. Hy is luidens berigte twee weke gelede by die ANC se provinsiale kongres in Gauteng deur ’n deel van die afgevaardigdes uitgejou toe sy teenwoordigheid daar aangekondig is. Niemand het vir hom hande geklap nie, in teenstelling met die luide applous wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie, begroet het.

Manana het in sy bedankingsbrief aangedui hy beplan om ’n gedeelte van sy pensioengeld te skenk aan die stryd teen gesinsgeweld. Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het in reaksie hierop gesê dit is ’n aanduiding van “iemand wat volle verantwoordelikheid en berou” toon vir sy optrede. Die vraag is egter of Manana werklik berou getoon het en of dit maar net vensterversiering is.

Dit kom voor asof hy bloot bedank het om verdere optrede vry te spring. Hy wou duidelik nie verder verneder word deur sy eie kollegas in die parlement nie.

En is dit goed genoeg om geld na ’n saak te gooi? Gaan die organisasies aan wie hy ’n gedeelte van sy pensioengeld gaan skenk, werklik ’n invloed hê om gesinsgeweld suksesvol te takel?

Baie myle lê tussen doen en sê. As Manana werklik berou het oor sy gedrag, sou hy nie net geld gebruik om beter te voel oor homself nie.

Hy sou sy nuutgevonde vrye tyd gebruik om aktief betrokke te raak teen geweld teen vroue en kinders.

Hy sou die gesig van ’n landwye veldtog teen gesinsgeweld word en die boodskap verkondig dat vroue respek verdien.

En dat geweld nooit die oplossing vir enige probleem is nie.

Meer oor:  Mduduzi Manana  |  Philda Essop  |  Vrouegeweld  |  Vrouedag  |  Geweld Teen Vroue  |  Verkragting  |  Anc-Lp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.