Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bakens nodig in al die oordaad
Johannes Froneman

’n Brokkie in Die Burger vertel verlede week dat Suid-Afrika die Aussies in Durban in ’n kriekettoets verpletter het.

Bygesê, dit was 50 jaar gelede.

Ja, dit het die voorblad gehaal met die volgende hoofopskrif: “Springbokke nou los voor in toetsreeks.” (Ons het Bill Laurie en sy span uiteindelik met ’n pak slae van 0-4 huis toe gestuur.)

Vir enigeen wat iets van daardie toets kon beleef, is dit soos gister. Jy onthou dit goed al was TV-uitsendings toe nog net op die horison. Dus geen kykwere uit ses hoeke van elke paaltjie om die toetssege in te brand nie. Net die oomblik in die son toe Ali Bacher se span die Australiërs aan flarde gespeel het.

Ons het ná skool saam met die krieketmeneer Kingsmead toe gery. Toe trek Pollock reeds ver anderkant 100. Sonder om Google te raadpleeg, kan ek stellig sê Pollock het uiteindelik 274 gekry. Sy manjifieke dryfhoue deur die dekveld het telkens die bal teen die wit houtpaaltjie-heining laat klap.

’n Jong Mike Proctor het in daardie reeks met enorme spoed so van die “verkeerde” voet af geboul en Barry Richards het in sy enigste vier toetse gewys waarom hy een van die grootstes ooit was. Hy is deur apartheid/boikotte beroof van ’n roemryker loopbaan.

’n Mens kan oor die verlede nogal nostalgies raak en in die proses vergeet dat herinneringe aan “goeie tye” neig om die waarheid te ontsmet van onaangename waarhede

Mense van my ouderdom sal saam met my ook die destydse rugbytoetsreekse onthou. Soos die reeksoorwinning teen die All Blacks in die einste 1970.

’n Mens kan oor die verlede nogal nostalgies raak en in die proses vergeet dat herinneringe aan “goeie tye” neig om die waarheid te ontsmet van onaangename waarhede. Soos dat Bacher se span net uit wit spelers bestaan het. Dit net terloops en ter wille van perspektief.

Ons onthou hierdie sportverlede (voor TV-oorlading) selfs al het ons uiteraard nie al die toetse self beleef nie. Daar was hier en daar ’n kleurfoto in Huisgenoot wat noodwendig teen die muur opgeplak is. En ’n paar sekondes van die rugby of krieket in swart/wit in die nuusvoorprent by die fliek. Maar daar was soveel minder mediabeelde wat geveg het vir plek in ons geheue en daarom staan die groot oomblikke soveel beter uit.

Hoe ’n nuwe geslag gaan terugdink aan 2020 of 2019 of 2018 weet nugter. Ons het verskeie kere teen alle lande gespeel en gaan weer en weer. Darem is daar Wêreldbeker-oorwinnings op die rugbyveld wat uitstaan. Jonty wat die paaltjies platduik. Die 438-wedstryd op die Wanderers teen Australië. Die res is meestal net ’n grys gedruis.

Ondanks goeie media-oomblikke het ons ook ander definiërende oomblikke nodig, weg van die TV en ons slimfone. Dalk ’n toer deur ’n deel van die land wat jou aan die hart gryp. Of die ontmoeting met iemand wat ’n lewenslange vriend word. ’n Boodskap wat jou lewe verander het. ’n Briljante boek wat jou dinge beter laat verstaan. Oomblikke waarna jy terugkyk en jou kop in verwondering skud.

Hierdie lewensoomblikke sluit aan by daardie relatief onbelangrike (dog onvergeetlike) sportoomblikke van 1970 waarna ek verwys het.

Hulle verbreek nie net die saaiheid van die gewone bestaan nie, maar is bakens omdat hulle so spesiaal was. Hulle was so anders as die oordaad van middelmatige TV, sport, flieks en skermprentjies.

Ons mislei onsself deur te dink ons het ’n vol en interessante lewe omdat ons skermtyd weekliks meer word en DStv en Netflix soveel opsies bied. Soos Postman dekades gelede reeds gewaarsku het: Ons vermaak onsself tot die dood toe. Helder oomblikke red ons van dié dood.

Meer oor:  Johannes Froneman  |  Herinneringe  |  Rugby  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.