Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bathabile se ‘feminisme’ wil staatskaping hervestig

Oudminister Bathabile Dlamini se opspraakwekkende brief waarmee sy as ANC-LP bedank het, het niks met die bemagtiging van vroue te doen nie, skryf Christi van der Westhuizen.

Bathabile Dlamini het haarself verontskuldig en baie vingers gewys in haar omstrede bedankingsbrief as ANC-LP. Foto: Argief

Tussendeur die selfverontskuldigings en vingerwysing is Bathabile Dlamini reg oor een ding in haar bedankingsbrief.

Vrae kan gevra word oor die stand van vrouebemagtiging as deel van die ANC se politieke agenda. Maar haar optrede, insluitend dié brief, dien ook as illustrasie van hoe nasionalistiese vroue in die party-politieke magspel meegesleur kan raak ten koste van vroue én die groter openbare belang.

Dlamini se soms onsamehangende bedankingsbrief toon ’n skielike besorgdheid oor patriargie. Sy is berug weens uitlatings en aksies wat juis patriargie in die hand werk. Wie kan vergeet dat die ANC-Vroueliga onder haar leierskap ’n span mans na die party se nasionale algemene raad in 2017 gestuur het om namens hulle oor beleid te debatteer?

Nie net dit nie: sy het dié stap sowaar geregverdig deur ’n ou patriargale stereotipe uit te rol, naamlik dat vroue te emosioneel is om hulself behoorlik uit te druk. Dit is ook onder haar leierskap dat die liga hul omstrede standpunt in 2012 gestel het dat Suid-Afrika nie “gereed” is vir ’n vrouepresident nie.

Hierdie veranderde standpunt oor vroueleierskap het in 2017 ingeskop toe die liga uit die bloute besluit het dat Suid-Afrika wel gereed is vir ’n vrouepresident.

Dit is opvallend dat Dlamini haar diskoers die afgelope jaar of wat verander het. Sy swenk deesdae in ’n meer feministiese rigting, byvoorbeeld met haar uitlating in September 2018 dat mans nie namens vroue oor grondherverdeling mag praat nie. Dis presies die teenoorgestelde van haar vroeëre regverdiging van mansverteenwoordiging.

Soortgelyk was haar verdoeming van die verkiesing van slegs een vrou (Jessie Duarte) tot die ANC se topses ’n jaar gelede. Patriargie het al weer in die ANC kop uitgesteek, was haar kritiek.

Hierdie veranderde standpunt oor vroueleierskap het in 2017 ingeskop toe die liga uit die bloute besluit het dat Suid-Afrika wel gereed is vir ’n vrouepresident, en Nkosazana Dlamini-Zuma as kandidaat vir die ANC-presidentskap gesteun het.

In Dlamini se bedankingsbrief is dit juis weens haar gegriefdheid oor Dlamini-Zuma se mislukte leierskappoging dat sy die ANC se “gewilligheid” bevraagteken om patriargie te beveg.

Weer eens maak sy ’n veralgemening: die ANC is nie gereed om deur ’n vrou gelei te word nie. Dít, volgens haar, is die “les” van die laaste leierskapsverkiesing wat Cyril Ramaphosa gewen het.

Swart vroue beur ruimte vir hulself oop

Die ANC Vroueliga se noue assosiasie met Winnie Madikizela-Mandela het ’n vraagteken oor hul politieke en etiese kultuur geplaas. Foto: Argief

Die tweede les is dat “sommige” nie begryp watter bydrae vroueorganisasies tot politieke partye lewer nie.

Wat waar is, is dat nasionalistiese bewegings in die algemeen vroue se rol soveel moontlik probeer rig en inperk. Hierdie inperking vind volgens ’n patriargale indeling plaas wat mans aan die voorpunt as aktiewe agente in die nasionalistiese saak plaas.

Vroue, daarteenoor, word as simbole en ook as die fisieke en morele reproduseerders van die nasie geposisioneer.

Wat indrukwekkend in die geskiedenis van swart vroue se stryd teen onderdrukking is, is dat hulle vanaf die 1910’s ten spyte van die mans ’n al hoe groter ruimte vir hulself oopgebeur het.

Dit het in alle erns begin met swart vroue se geslaagde betogings teen die paswette in 1913 en die stigting van die Bantoe-Vroueliga in 1918. Die ANC het vroue eers glad nie toegelaat nie, en toe net as “hulp-lede” en ook net as hulle met ANC-mans getroud is.

ANC-vroue se uitdaging was deurgaans dat vrouebemagtiging nie as ’n volwaardige deel van die “nasionale bevrydingstryd” gesien is nie. Laasgenoemde is gelees met betrekking tot ras en, in mindere mate, klas. Geslag is altyd as ’n kantlynkwessie beskou.

Daardie status het egter in die 1940’s verander toe hulle as volledige lede kon aansluit. Die vroueliga het in 1948 tot stand gekom, maar het verdwyn met die verbanning van die ANC.

Tydens die bannelingsjare het vroue weer eens vir hul eie voertuig beding, en die ANC-Vroueseksie is geskep. Hul rol is egter verskraal tot die plig van versorging wat nasionalisme graag met vroue assosieer, en hulle is met welsynsfunksies belas.

Maar teen 1990 het die vroue die liga herstel en ’n feministiese standpunt ingeneem. ANC-vroue binne en buite die liga het ’n deurslaggewende bydrae gemaak tot die vestiging van vroueregte as menseregte in die Grondwet.

Die rits wette en beleide wat gevolglik aanvaar is, verseker vandag vroue se wetlike posisie en beskerming as gelykwaardige mense – minstens voor die reg.

Die liga se noue assosiasie met Winnie Madikizela-Mandela, wat twee keer in die 1990’s as ligapresident verkies is, het egter ’n ernstige vraagteken oor hul politieke en etiese kultuur geplaas.

ANC-vroue se uitdaging was deurgaans dat vrouebemagtiging nie as ’n volwaardige deel van die “nasionale bevrydingstryd” gesien is nie. Laasgenoemde is gelees met betrekking tot ras en, in mindere mate, klas. Geslag is altyd as ’n kantlynkwessie beskou.

Ras en klas kry voorrang bo geslag

Vandag steeds kry ras en klas voorrang bo geslag in die ANC. Anders as wat Dlamini probeer voorstel in haar brief, is dit nie net die skuld van patriargale mans in die ANC nie. In ’n redelike mate kan die skuld ook voor die vroueliga se deur geplaas word.

Dlamini en die ligavroue beweeg nie vanuit ’n feministiese posisie nie. Hulle gebruik eerder geslag as ’n strategiese hulpbron om hulself te posisioneer en veral om regeringsampte vir ligavroue los te slaan.

Christi van der Westhuizen

Die weersprekende wendings in die liga se diskoers oor vroue dui op hierdie strategiese gebruik van geslag om veld in interne ANC-mededinging te wen.

Die ligavroue is ewe meegesleur in die huidige faksiegeveg as ander leiers.

In Dlamini se brief kla sy nie net oor Dlamini-Zuma die leierstryd verloor het nie.

Sy vaar ook teen “monopoliekapitaal” uit, wat daarop dui dat sy steeds deel van die Zuma-faksie is.

Die feministies-klinkende diskoers wat Dlamini inspan het dieselfde funksie as die “linkse” diskoers van ekonomiese transformasie wat figure soos Ace Magashule, die sekretaris-generaal, en Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, aanwend.

Dit het gewoon ten doel om die projek van staatskaping te hervestig en te legitimeer. Hierdie opportunisme het niks met die bemagtiging van vroue of die opheffing van armes te make nie.

* Christi van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie (Canrad) aan die Nelson Mandela-Universiteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.