Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Batohi en span het reuse-taak
Redi Tlhabi

Vergewe maar my opgewondenheid omdat adv. Shamila Batohi se ampstermyn as nasionale direkteur van openbare vervolging op 1 Februarie begin het.

Sy het ’n klomp boewe om in die beskuldigdebank te kry en ’n mens wonder waar sy moet begin.

My opgewondenheid is nie aan naïwiteit of idealisme toe te skryf nie. Dit is eerder ’n diepgaande verligting, gepaardgaande met ’n hartstogtelike gebed, dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nooit weer so laag sal daal soos onder adv. Shaun Abrahams, sy vorige baas, en die man wat hom aangestel het nie.

Batohi het ’n enorme taak wat ’n liefde vir haar land en ’n verbintenis tot ons grondwetlike waardes verg. Sy sal haar weg tussen ’n paar politieke landmyne deur moet vind waarvan sommige reeds ontplof en ons demokratiese struktuur en moraliteit aan flarde geruk het.

Ons is diep verwond, terwyl die skuldiges ongelooflik arrogant is en niks oorkom nie. Batohi en haar span moet hulle in die bek ruk.

Haar regsagtergrond is indrukwekkend en sy het boonop reeds as direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal gedien.

Dit is onwaarskynlik dat sy deur korrupte, magtige mense oorweldig sal word. Haar termyn as senior regsadviseur by die Internasionale Strafhof sal die NVG voorts goed te staan kom as internasionale misdaadsindikate – waarvan sommige in Suid-Afrika gefloreer het – getakel moet word.

Sy het ’n klomp boewe om in die beskuldigdebank te kry en ’n mens wonder waar sy moet begin.

Dit voel soos ’n ander leeftyd toe Abrahams sy gesag misbruik het om die vervolging aan te kondig van Pravin Gordhan, toe minister van finansies, asook die voormalige amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) Oupa Magashula en Ivan Pillay.

Ons het reeds in Oktober 2016, toe Abrahams verklaar het die dae is verby dat senior regeringsamptenare nie verantwoordbaar gehou word nie, geweet ’n vuil politieke spel word gespeel. Ook dat die NVG onder Abrahams vasbeslote was om gewetenlose politici te help om hul vuil greep op mag en staatshulpbronne te behou.

Die stortvloed van onthullings voor talle kommissies van ondersoek na staatskaping, die NVG en die SAID het bevestig dat die NVG in ’n selfgeïnduseerde koma was en glad nie besluite geneem het nie – nie eens besluite wat ons kon minag nie.

Om die oë te sluit in die aangesig van naspeurbare en toeganklike bewyse het verseker dat senior regeringsamptenare en hul magtige sakevriende nie toerekenbaar was nie.

Ons is van die hopelose Abrahams gered toe die konstitusionele hof verlede jaar bevind het sy aanstelling deur oudpres. Jacob Zuma is ongeldig en ongrondwetlik. Elke verregaande onthulling in elke ondersoek bevestig dat Abrahams nooit aan Suid-Afrika se kant was nie.

Sy uiteindelike besluit dat Zuma strafregtelik aangekla moes word, was te min, te laat. Zuma het teen daardie tyd sy pos verlaat en Abrahams het niks gehad om te verloor nie – nie eens sy waardigheid nie. Dít het hy lankal op ’n silwer skinkbord aan die president oorhandig.

Ons het afgestomp vir die misbruik van mag en die oortreding van ons wette geraak. Ons sin vir reg en verkeerd moet dringend herstel word. Die NVG is die onbetwisbare weg na geregtigheid. Mag ons nooit weer sulke vraatsug of verdorwenheid beleef nie.

Terwyl Batohi deur hope lêers swoeg, wens ons haar ’n suksesvolle termyn toe. Suid-Afrika het dit nodig.

Tlhabi is ’n bekroonde skrywer, joernalis en geselsprogramaanbieder. Dié rubriek het op News24 verskyn en is ’n verkorte weergawe van die oorspronklike.

Meer oor:  Shamila Batohi  |  Redi Tlhabi  |  Korrupsie  |  Vervolging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.