Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Batohi sal haar hande vol hê

Twee nuusberigte gister hou met mekaar verband – naamlik oor die aanstelling van adv. Shamila Batohi as hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en oor die terugtrek van die aanklagte in die NVG-ondersoek na die omstrede Estina-suiwelprojek van R250 miljoen.

Met as punt dat Batohi se taak insluit om die kultuur van die nasionale ver-volgingsgesag geswaai te kry.

Gert Coetzee

As die eerste vroulike NVG-hoof, ’n aanstelling wat sy as ’n historiese oomblik vir vroue beskou, lyk die vurige (feisty) en bekwame Batohi soos ’n regrukker. Haar aanstelling is hoeka daarop gerig om die “staat van disfunksionaliteit en die gebreke in die NVG wat die hof uitgewys het” teen te werk, het pres. Cyril Ramaphosa gesê.

Tydens staatskaping, waarvan die Vrede-melkprojek ’n uitloper is, het die NVG van die kop af in ruggraatloosheid verval. Dit moes toegewyde NVG-lede rasend gefrustreer het om hul werk in die verlammende konteks te probeer uitvoer.

Net soos die Suid-Afrikaanse Inkom- stediens, staatsveiligheidsagentskap, die Valke en andere is die NVG met voorbedagte rade ingekatrol om Jacob Zuma en sy konsentriese binnekringe van hoeders se sonde te bedek en te vergoeilik en vegters vir reg en geregtigheid verdag te maak.

Onstabiliteit in die NVG kom al van die dae van die wapenbedrog waar ons weet wie se naam as Skelm Een begin opduik het. Dit is ingelui met die aan-slag op Bulelani Ngcuka in die laat 1990’s en sy opvolger as NVG-hoof, Vusi Pikoli. Ná hulle het Mokotedi Mpshe, Menzi Simelane, Nomgcobo Jiba (waarnemend) en Mxolisi Nxasana, wat almal vir dieselfde rede aangestel is, geen vertroue ingeboesem nie. Die treurmare het ondersoeke, hofbevele en ’n goue handdruk ingesluit. Die NVG se ware missie is vertroebel en sy geloof-waardigheid aangetas.

’n Fundamentele verskil tussen ’n demokrasie en ’n totalitêre diktatuur is dat in eersgenoemde die regsapparaat – die polisie, NVG en regters/landdroste – hul werk onafhanklik en los van die wetgewende en uitvoerende gesag uitvoer. Hierteenoor is totalitêre dikta-ture ideologies deurdrenk en die regs-apparaat gedienstig. Amptenare se be-sluite berus op ’n vermenging van die reg, partypolitieke oorweginge en ideologiese oortuiging.

Gee Ramaphosa krediet dat hy ook met Batohi se aanstelling raakvat. Die nuwe NVG-hoof gaan haar hande vol hê om die bose kringloop – met mislukte ondersoeke as ’n simptoom – stop te sit en die staat teruggekaap te kry.

Só het Mpshe klagte van korrupsie teen Zuma vertraag tot ná die ANC se Polokwane-kongres van 2007. Toe Zuma ANC-leier en later staatshoof word het, was hy onaantasbaar. En die ANC-regering, waarvan Ramaphosa nou die hoof is, het die regbank deur (minder) subtiele pogings probeer rysmier om Zuma van vervolging gevrywaar te kry. Die ANC se chroniese gesukkel om tussen staat en party te onderskei het akuut geraak. Dit verg immers ondergeskiktheid aan die regbank en nie regsverhewendheid nie. Voorlopers, soos Gwede Mantashe (wat nou voor die Zondo-kommissie staatskaping onthul het!), Blade Nzimande en Jessie Duarte het toe laat deurskemer die ANC beskou die regsgesag as ’n lastigheid wat die party se selfver-heerlikte strewes in die wiele ry.

Die geveg om Zuma te lig was ook ’n sege vir die regbank, maar die stryd is onvoldaan. Een van sy stuiptrekkings was die aanstelling van Shaun Abra-hams as NVG-hoof. Abrahams het be-loof hy is nie ’n politieke beskermheer nie en gáán die NVG, waarvan die onaf-hanklikheid en onberispelike werking vanselfsprekend is, regruk. Skynheilige laaste woorde.

Gee Ramaphosa krediet dat hy ook met Batohi se aanstelling raakvat. Die nuwe NVG-hoof gaan haar hande vol hê om die bose kringloop – met mislukte ondersoeke as ’n simptoom – stop te sit en die staat teruggekaap te kry.

  • Gert Coetzee is die redakteur van Volksblad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.