Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Batohi veg alleen teen korrupsie

Suid-Afrika wen nie – of ten minste nog nie – die stryd teen korrupsie nie. Dít is die mening van niemand anders nie as die relatief nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, wie se aanstelling die hoop laat opvlam het dat die regering uiteindelik iemand aangestel het wat die stryd teen korrupsie met groter doeltreffendheid sal pak.

Batohi was egter stadig uit die blokke en het ’n geruime tyd geneem om haar eerste noemenswaardige inhegtenisnemings – in die geval in verband met die VBS-bankskandaal – te doen. Sy het verlede week in ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie ’n droewige prentjie geskets oor die vordering met die stryd teen korrupsie.

“Wen ons die stryd?” het sy gevra, en toe sommer self geantwoord: “Ek dink nie so nie – nog nie.” Sy het bygevoeg dat dit tyd is om openlik te wees oor die vordering, of gebrek daaraan.

En net om te wys hoeveel steun sy kan verwag van die regerende party in die stryd teen korrupsie, het die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) twee van sy amptenare in Limpopo wat na bewering betrokke was by die VBS-skandaal en gevolglik geskors is, in hul poste herstel. Praat van klippe rol in die pad van Batohi en haar span!

Dis ’n bewys dat die ANC sy eie grootste vyand is in sy verklaarde voorneme om die land van korrupsie te bevry.

’n Mens kan nie help om te wonder waar pres. Cyril Ramaphosa was toe sy party die besluite oor die Limpopo-amptenare geneem het, en wat hy daaroor te sê gehad het nie. Dis ’n bewys dat die ANC sy eie grootste vyand is in sy verklaarde voorneme om die land van korrupsie te bevry. Korruptes in die ANC weet hulle kan rustig met onderduimshede voortgaan, want die party sal altyd vir hulle in die bres tree.

In ’n verwante verwikkeling het die ANC se sekretaris-generaal, Ace Maga­shule, die afgelope naweek in ’n televisieonderhoud gesê oudpres. Jacob Zuma kan nie alleen verantwoordelik gehou word vir sy vermeende rol in korrupsie en staatskaping nie.

Indien Zuma skuldig is, en hy reken nie hy is nie, dan moet die kabinet en die “hele NUK” ook pa staan, het Magashule gesê. Dit is glo omdat enige besluite van Zuma die kollektiewe besluite van die kabinet en die NUK sou wees.

Zuma word tans verhoor op aanklagte van korrupsie wat verband hou met die omstrede wapenaankope in die 1990’s.

Dit is nie duidelik wat Magashule gehoop het om te bereik met sy opmerkings in die onderhoud nie, maar dit kan daarop gerig wees om Zuma voortydig te verontskuldig van moontlike vervolging weens staatskaping.

Dit is moontlik dat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, waar Zuma na verwagting binnekort weer sal getuig, Magashule se opmerkings van nader sal wil bekyk. Hy sal waarskynlik self voor die Zondo-kommissie gedaag word om te getuig.

In sy onderhoud het Magashule getrou gebly aan die ANC-draaiboek dat Zuma ’n slagoffer is van ’n moedswillige media wat daarop uit is om die ANC te vernietig. Die ANC sal nie Batohi se taak vergemaklik nie. Inteendeel. Daarvan getuig die party se hantering van sy lede wat by die VBS-skandaal betrek word, en Magashule se opmerkings oor Zuma se vermeende betrokkenheid by voorvalle van korrupsie.

Met die VBS-skandaal het die ANC bewys dat hy buitengewone stappe sal doen om sy kaders te beskerm. Batohi moet besef dat die ANC nie ’n vennoot is wat deur dik en dun aan haar sy sal staan in die stryd teen korrupsie nie – beslis nie waar leidende kaders betrokke is nie.

Batohi is vir alle doeleindes aan haarself uitgelewer. Suid-Afrikaners kan maar net hoop dat sy sal volhard, want soos dinge nou staan, is sy die beste kans wat ons het om die rug van korrupsie finaal te knak.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Regering  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.